Rehoboth stu voort midde talle uitdagings

Kredietbeheer bly een van die grootste kopsere by dié plaaslike owerheid.
Denver Kisting
Denver Kisting



Die Rehoboth-dorpsraad skuld NamPower tans ongeveer N$120 miljoen, sê die plaaslike owerheid se uitvoerende hoof, mnr. Simeon Kanime.

Wat die nasionale watervoorsiener, NamWater, betref, beloop hul skuld tans N$3 miljoen.

Kanime sê dié skuld het sowat 30 maande gelede op N$30 miljoen gestaan.

Die uitvoerende hoof, wat verlede jaar in dié pos aangestel is, het Sondagmiddag tydens 'n gemeenskapsvergadering op die dorp gesê hulle probeer om die waterskuld teen Mei te delg.

Die finansiële bestuurder, mnr. Zayno Theron, sê daar is tans 4 000 foutiewe kragmeters, wat inwoners misbruik om krag te steel.

Dié meters stel hulle in staat om gratis elektrisiteit te ontvang.

Dít is een van die faktore wat in die dorp se pad tot finansiële selfversorging staan, sê Theron.

Hy het erken daar is 'n agterstand in die voorlegging van die dorpsraad se finansiële state aan die ouditeur-generaal.

State vir 2016 is reeds geoudit en hulle is in die pylvak met 2017 s'n, het hy gesê.

'n Omskakeling na 'n nuwe rekeningkundestelsel het die gesloer veroorsaak, het hy gesê.

Theron het gesê munisipale rekeninge mag kragtens wetgewing nie afgeskryf word nie.

Dieselfde geld tariefaanpassings, het hy gesê.

“Ons kan nie net tariewe aanpas soos ons lus kry nie.”

Die dorpsraad het aan die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, dr. Peya Mushelenga, geskryf om toestemming vir 'n kwytskeldingsprogram te kry, het hy gesê.

Dít om die opgehoopte rente af te skryf.

“Dit is nie vir kapitale skuld nie,” het Theron gesê.

Volgens hom sal inwoners binne drie maande ná die amptelike aankondiging van dié vergunning gebruik moet maak.

Mushelenga het gister gesê hy dra nie kennis van dié skrywe nie.

Die woordvoerder, me. Desire Theunissen, sê dit is nie waar dat munisipale amptenare dienste gratis kry of afslag ontvang nie.

“Ons is verplig om ons rekeninge te betaal. Ons rekeninge moet skoon bly. Ons word ook geraak deur die besluite wat die raad neem.”

Mnr. Ernst de Waal, hoof van die dorpsraad se tegniese afdeling, sê 'n gebrek aan mannekrag belemmer hul rioolbestuur.

“Dit gaan maar moeilik,” sê hy.

Hy sê nie net het hulle té min mense nie, hulle het ook nie genoeg toerusting om rioolprobleme op te los nie.

Kanime het gesê volgens plan sal inwoners in die nuutgestigde woonbuurt, Blok H, gevestig word en eienaarskap van die grond bekom.

“Mense benodig eienaarskap van daardie grond en die raad het inkomste nodig.”

Die burgemeester, me. Christina Blaauw, het gesê die platform is geskep om te verseker akkurate inligting word met die publiek gedeel.

Sy het gesê daar is mense wat hul vryheid van spraak misbruik om die dorpsraad te beswadder.

 – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer