Rehoboth salueer Luketz met straatnaam en erf
Rehoboth salueer Luketz met straatnaam en erf

Rehoboth salueer Luketz met straatnaam en erf

Padwedlope
Andrew Poolman
Boet Matthews en Andrew Poolman – Die suidedorp Rehoboth het Saterdag sy uitgetrede superatleet Luketz Swartbooi met 'n seremonie vereer waar Sparrowstraat wat by die B1-hoofpad na Windhoek aansluit, amptelik na die dorp se wêreldklas langafstandatleet vernoem word.

Die dorpsraad het boonop 'n erf in Blok H, Uitbreiding 1 geskenk aan die 55-jarige Swartbooi, wat die silwermedalje by die 1993 IAAF wêreldkampioen­skap se marathon in Stuttgart gewen het.

Hy het aan twee Olimpiese Speles (Barcelona 1992 en Sydney 2000) deelgeneem en het vir oulaas 'n stewige vyfde plek by die 2002 Statebondspele behaal.

Swartbooi bly tot vandag die Namibiese rekordhouer in die marathon, met die 2 ure 09 minute 08 sekondes waarmee hy in 1994 die derde posisie by die Boston-marathon beklink het.

Sy lys van nasionale rekords strek inderdaad vanaf die 5000 meter (padwedloop én baan), asook die padwedlope 10 km, 15 km, 10 myl en die halfmarathon (1:01:26, in Philadelphia, 1993).

By Saterdag se seremonie het me. Amanda Groenewald van die Rehoboth dorpsraad gesê: “Luketz het as seun van Rehoboth grootgeword en ons dorp op die wêreldkaart geplaas, net soos Frank Fredericks en Michelle McLean (Mej. Heelal 1992) vir Namibië gedoen het.

“Ons eer vandag sy sportprestasies en die voorbeeld wat hy met sy toewyding gestel het, wat respek verdien.

“Niemand van ons lewe vir ewig nie. Laat ons omgee vir mekaar en ons talente ten volle gebruik en ontwikkel. Laat ons elkeen ons wedloop met uithouvermoë aanpak en klaarmaak.

“Ons ken Luketz as 'n nederige man, maar hy is 'n legende met 'n groot nalatenskap. Ons salueer jou.



FREDERICKS GEÏNSPIREER

In 'n brief deur Frank Fredericks wat by die geleentheid voorgelees is, skryf die destydse Olimpiese medaljewenner en wêreldkampioen: “Liewe Luketz, jammer dat ek vanweë 'n vorige afspraak nie self teenwoordig kan wees nie. Baie geluk met vandag se verering.

“Ek onthou steeds hoe jy my in 1993 geïnspireer het om vir die goud te gaan, toe jy jou silwermedalje in die marathon ingepalm het.”

Fredericks het in Stuttgart die wêreld­titel in die 200 (19.85) met sy sege teen John Regis en Carl Lewis verower.

“Ons klein spannetjie van net drie atlete was die land se mees suksesvolle een in die geskiedenis [Namibië was 13de op die medaljelys, met die hoogspringer Orla Venter as die derde spanlid].

“Baie geluk, my vriend. Wat 'n paslike eer vir een van ons land se onbesonge helde. Ek kom môre (Sondag) Rehoboth toe om 'n foto in jou straat te neem. Groete, Frankie.”

• Die minister van sport, me. Agnes Tjongarero, sê Swartbooi verdien die erkenning lankal. “Hy was die koning van die marathon ... tussen die wêreld se bestes. Die wyse waarop hy met dissipline en volharding in moeilike omstandighede uitgestyg het, wys vir ons almal wat moontlik is. Ek moedig die jeug van Rehoboth en Namibië aan om van hom te leer en sy voorbeeld te volg.”


FOTO
Luketz Swartbooi saam met sy vrou, Salonuka. Foto Boet Matthews

Kommentaar

Republikein 2025-05-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer