Rehoboth in afwagting op gevegte
Rehoboth in afwagting op gevegte

Rehoboth in afwagting op gevegte

Amateurboks
Andrew Poolman
Die Hardap-bokskampioenskap word vir Saterdag 16 Oktober held in die Hermanus van Wyk gedenksaal op Rehoboth beplan, met die eerste gevegte vanaf 12:00.

Volgens die organiseerders word geskiedenis gemaak met Hardap se eerste streekkampioenskap vir amateurs vandat Namibië in 1990 onafhanklik geword het.

Van die juniors wat in aksie sal wees, sluit in Aidyn Kotze en Chase van Wyk.

Elias Mwahafa teen David Erastus sal een van die gevegte in die jeugafdeling wees, terwyl Lakeisha van Wyk as ’n belowende vrouebokser uitgesonder word.

Nader aan die elite vlak is die Hardapstreek se liggewigtitel op die spel wanneer Lee-Verne Heyn en Lynn-George Steyn teen mekaar deur die kryttoue klim.

Nazil Alli, wat sover twee van sy drie gevegte gewen het, se opponent sal later bekendgemaak word, terwyl Jenarlo Coakley van Mariental een van die besoekende boksers op Rehoboth sal wees.

Patrick Esterhuizen, stigter van Legends boksakademie op Rehoboth, sê die meeste van dié klub se boksers sal vegkans kry. “Ons het ook boksers van Khomas wat in aksie sal wees om Rehoboth se bestes uit te daag.”

Esterhuizen reken mense uit die sakegemeenskap kan gerus na die talent in die bokskryt kom kyk. “Ons vra nie geld of borgskappe nie, maar vir deelnemers in die vroeë stadium sal selfs die basiese benodigdhede soos bokshandskoene, ’n mondskerm, liesbeskerming en verbande vir handbeskerming reeds ’n hupstoot op hul reis in Olimpiese amateurboks wees.”

Enige individue of maatskappy wat belangstel om toerusting of uitrusting te borg, kan hom by [email protected] bereik.

FOTO
Aidyn Kotze

Kommentaar

Republikein 2026-06-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer