Rehoboth-hoof betaal glo nie onderhoud
Rehoboth-hoof betaal glo nie onderhoud

Rehoboth-hoof betaal glo nie onderhoud

Augetto Graig
Die hoof uitvoerende beampte van die Rehoboth-dorpsraad, mnr. Christoph /Uirab, is Vrydagoggend by sy huis in die Hardapstreek in hegtenis geneem, omdat hy glo agterstallig met onderhoud vir sy kind is.

Sy arrestasie volg op die uitreiking van ''n lasbrief op Swakopmund omdat hy na bewering versuim het om in die onderhoudshof op die kusdorp te verskyn. Volgens hofdokumente is /Uirab sowat N$60 000 agterstallig.

/Uirab het Vrydag in die landdroshof op Rehoboth voor landdros Salome Bampton verskyn en aangedui hy wil private regshulp kry om hom te verdedig. Die staatsaanklaer, mnr. Leonard Mateus, het voorgestel /Uirab moes gister weer op Swakopmund verskyn. /Uirab het egter vir meer tyd gevra om sy regsverteenwoordiger aan te stel en om vir bewyse te soek dat hy wel onderhoud betaal het. Volgens /Uirab het hy geld aan die kind se ma betaal en behoort sy uitstaande skuld nou net N$8 000 te wees.

/Uirab het voorts gesê hy kan net borgtog van N$1 000 bekostig, dit terwyl die staat vir borgtog van N$30 000 gevra het. Die hof het borgtog van N$15 000 gevra.

/Uirab het dit betaal en is op waarskuwing vrygelaat om weer op 9 Desember in die hof op Swakopmund te verskyn.

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer