Regulasies oor die deling van telkominfrastruktuur in die pylvak
Regulasies oor die deling van telkominfrastruktuur in die pylvak

Regulasies oor die deling van telkominfrastruktuur in die pylvak

Augetto Graig
Augetto Graig

Die Namibiese Reguleringsowerheid vir Kommunikasie (Cran) het Maandag ’n tweede en laaste openbare vergadering oor die gesamentlike benutting van infrastruktuur in die bedryf belê.
Volgens Cran sal alle voorstelle tydens die opstel van regulasies in ag geneem word.
Die owerheid se uitvoerende hoof, mnr. Festus Mbandeka, het gesê dit is verskaffers van telekommunikasiedienste en uitsaaiers se wetlike plig om hul infrastruktuur met mekaar te deel. Dit sal mededinging bevorder.
“Ons probeer ’n ingesteldheid aanmoedig wat nie ander operateurs sal frustreer of nuwelinge uit die mark sal hou nie,” het hy gesê.
Daar is reeds voorbeelde van spelers in die telekommunikasiebedryf wat infrastruktuur aan mekaar be­skikbaar stel. Die nuwe regulasies moet regverdige samewerking ver­seker. “Ons beskerm die verbruikers en die hele bedryf,” het Mbandeka gesê.
Ander voordele is volgens hom verminderde kapitaalbesteding en bedryfskoste, asook ’n kleiner invloed op die omgewing, laer elektrisiteitsverbruik en die skepping van nuwe inkomstegeleenthede.
Mnr. Jochen Traut, Cran se bedryfshoof, het die vyf nuwe lisensiekategorieë verduidelik. Die owerheid sal lisensies uitreik vir toegang tot draer-infrastruktuur, wedersydse vergoeding, toegang tot netwerkelemente, die deling van infrastruktuur en nutsooreenkomste. Voorwaardes vir die nuwe lisensies is op 13 Junie gepubliseer.
Geen ooreenkomste wat ingevolge die lisensies tussen rolspelers aangegaan word, mag diskrimineer of sekere operateurs uitsluit nie. Ruilhandel sal ook nie toegelaat word nie. Elke operateur moet besonderhede oor al sy beskikbare infrastruktuur openbaar maak.
Cran sal nie vergoedingstariewe voorskryf nie, maar sal verseker ooreenkomste is regverdig. Geskille moet binne 30 dae opgelos word.
Ooreenkomste wat reeds van toepassing is, moet binne 60 dae nadat die nuwe regulasies aangekondig is, aan Cran beskikbaar gestel word.
Die deel van infrastruktuur is ook ’n meganisme om doeltreffendheid te verseker en pryse laer te hou.

Kommentaar

Republikein 2026-09-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer