u2018Regte visie is nou nodigu2019 u2013 Bougard
u2018Regte visie is nou nodigu2019 u2013 Bougard

‘Regte visie is nou nodig’ – Bougard

Rugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Sonder om kant te kies, het die rugby-afrigter Les Bougard gister sy kommer uitgespreek oor die gesindheid waarmee die voortslepende politieke onmin in Namibiese rugby aangepak word.

Bougard het gesê die tyd behoort verby te wees vir die groep beswaarde klubs en die Namibië Rugby-unie om net na mekaar vinger te wys en die ander party vir ’n gebrek aan gesprekvoering te beskuldig.

Ware leierskap, sonder om deur ego of persoonlike agendas aangedryf te word, is tans nodig om die skaakmat tussen die NRU en die klubs op te los.

“Hierdie is nie ’n sterkmankompetisie of ’n toutrekkery nie. Ons is almal in dieselfde bootjie en ons is partye wat afhanklik van mekaar is en wat vorentoe steeds moet saamwerk.

“As elkeen sy bors wil uitsteek en oor ander wil baas speel en sy eie posisie wil beskerm, doen dit niemand goed nie. Rugby behoort aan ons almal wat lief is daarvoor en dis ons land se beeld wat op die spel is. Dit is nou tyd om op die regte dinge te fokus.”

Bougard sê die beswaarde klubs behoort hulle kant van die saak duidelik aan die rugbypubliek uit te spel, sodat elkeen kan oordeel wie is reg.

Die feit dat die Rugby-unie se ligas die afgelope jare sonder ’n borg vir klubs se onkoste of prysgeld aan die presteerders oor die weg kom, behoort een van die prioriteite vir alle rolspelers te wees. Hy is van mening dat geld “altyd en oral” beskikbaar vir goeie doelstellings met die regte visie sal wees.

“Dit help nie ons skep die omstandighede vir konflik nie. Ons moet die omgewing skep vir wat ons wel wil hê moet gebeur.

“Daar is ’n les te leer uit die drie beginsels wat Nieu-Seeland opgestel het in ’n stadium toe hulle ook ’n keerpunt bereik het: Respek vir medespelers, respek vir die stelsel en werketiek om te doen wat gedoen moet word – sonder uitstel.”

SEWESRUGBY

Bougard was tot in 2015 afrigter van die Namibiese sewesspan en het verlede jaar ook die Tisan-studentespan oorsee geneem.

Hy het sy bereidwilligheid verklaar om sy ervaring met sy opvolgers te deel – al het niemand hom ooit hieroor genader nie.

“Ons moenie so gou wees om beskikbare ondervinding bloot weg te smyt nie. Ek het ook al jare gelede my kop gestamp en lesse geleer. So stel ons altyd nuwe mense aan wat dan van voor af op dieselfde plekke struikel. Ons span se vertoning by die Safland Sewes in November was nie noodwendig ’n tree vorentoe nie.

“Die siklus herhaal hom net, dat elke nuwe afrigter ’n ruk neem om sy voete te vind en juis dán afgedank en vervang word. Daar is nie kontinuïteit in ons stelsel van afrigters nie. Ek hoef nie eens van die persoon te hou nie – solank die samewerking tot voordeel van die land se rugby is. Die plan wat ek voorgelê het om sewesrugby van grondvlak af te bevorder en waar ons spelers vandaan moet kry, lê seker iewers en stof vergader.

“Ons boer agteruit omdat ons net oor ons eie selfsugtige agendas besorg is en nie genoeg respek vir mekaar wys nie. Ons getal klubs landwyd word die afgelope jare minder – nie méér nie. Watter ontwikkeling gebeur in die noorde van die land? Of die ooste, waar die groot geboude Herero’s rondloop?

“Ons moet begin omgee dat ons rugby nie verrot raak sonder visie, sonder trots en sonder die wil om te presteer nie.”

Kommentaar

Republikein 2025-10-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer