‘Regering val te veel rond met beleid’
Die Finansiële en Fiskale Kommissie het sy mening oor die afgelope mediumtermynbegrotingsraamwerk gegee.
Francois Williams
Die sny van begrotings op sigself gaan nie noodwendig tot doeltreffendheid in die staatsdiens lei nie, het prof. Dan Plaatjies, voorsitter van die Finansiële en Fiskale Kommissie (FFK), Dinsdag gesê.
Oor die omstrede kwessie oor e-tol het Plaatjies gesê as geld geleen is om die Gautengse snelweë op te knap, moet die geld terugbetaal word. Daar is geen ander opsie nie.
Hy het op ’n gesamentlike vergadering van vier finansiële komitees van die parlement gewaarsku e-tol raak die geloofwaardigheid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) en sy vermoë om sy lenings terug te betaal.
Die FFK het die komitees sy mening oor die afgelope mediumtermynbegrotingsraamwerk gegee.
Oor die staatsdiens se salarisrekening gaan dit vir die FFK oor hoe groot die staatsdiens moet wees, die struktuur van die salarisrekening en hoe dit verband hou met produktiwiteit.
“Ja, dit is hoog teen 46% van die begroting, maar daar is historiese kwessies wat daartoe gelei het.”
Oor beleidskwessies en die kritiek dat beleid te stadig ingestel word, het Plaatjies gesê die regering kan nie so baie verskillende beleide hê nie. Die inkonsekwentheid met beleid moet opgelos word.
BELASTINGBASIS KRIMP
Chen Tseng, navorsingspesialis by die FFK, het gesê dit was duidelik dat die afgelope mediumtermynbegroting een van die moeilikste tot nog toe was om saam te stel.
Die FFK meen daar is geen ruimte vir fiskale opsies (soos belastingverhogings) op kort termyn nie weens die swak ekonomie en die belastingbasis wat krimp, sê Tseng.
Die FFK sê tydens die geldkrisis van 2008 en 2009 het die regering baie begin bestee aan goed soos onderwys, gesondheid en welsyn. Dit het nie die verwagte resultate opgelewer nie, want armoede en ongelykheid het net toegeneem te midde van swak ekonomiese groei.
Die FFK glo die regering moet dapper, beslissend en onmiddellik optree om besteding te konsolideer en herprioritiseer.
Nie-noodsaaklike programme en entiteite moet gerasionaliseer word.
Die FFK meen ’n fiskale leningsreël moet oorweeg word wat keer dat die regering meer geld leen as wat hy moet. Dit is iets wat David Maynier, ’n vorige DA-woordvoerder oor finansies, ook al voorgestel het in ’n privateledewetsontwerp.
Die regering verloor egter sy greep op sy finansies en sy fiskale geloofwaardigheid word aangetas, sê Tseng.
PLAASLIKE REGERING
Dr. Nomfundo Vacu, navorser by die FFK se eenheid oor plaaslike regering, sê die kommissie glo die pogings om staatsdienssalarisse te beperk, moet ook na plaaslike regering en staatsondernemings uitgebrei word.
Vacu het gewys op verklaarde onbestede geld in staatsdepartemente se begrotings wat van R329 miljoen in 2018-’19 tot R3,9 miljard in die 2019-’20-boekjaar gestyg het, waarvan die meeste onbestede geld by die departement van hoër onderwys en opleiding is.
Plaaslike regerings kry volgens die MTBR in die 2019-’20-boekjaar toewysings uit die staatskas van R427,7 miljard, wat R20,5 miljard minder is as wat in Februarie begroot is, het Vacu gesê.
Sy waarsku oor die invloed van dié verlaging op dienslewering. Voorwaardelike toewysings aan plaaslike regerings is ook verlaag. Sy maan dit moet versigtig in werking gestel word sodat dit nie dienslewering negatief raak nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie