Regering maak glo vir wolf skaapwagter
Die regering is opnuut in die spervuur oor hul hantering van die ondersoek na korrupsie in die visbedryf.
Denver Kisting
Die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), sê die regering het vir wolf skaapwagter gemaak.
Dit, meen die PDM se sekretaris-generaal, mnr. Manuel Ngaringombe, is omdat die regering vir dr. Albert Kawana, die waarnemende minister van visserye en mariene hulpbronne, aangestel het om 'n ondersoek na die land se visbedryf te lei.
Ngaringombe het gister op 'n nuuskonferensie in die hoofstad gesê Kawana, ook die prokureur-generaal, moet hom onmiddellik aan die ondersoek onttrek.
Pres. Hage Geingob het vir Kawana as waarnemende minister aangestel nadat mnr. Bernhard Esau uit die pos bedank het.
Esau en 'n eertydse kollega, mnr. Sacky Shanghala, die oudminister van justisie, het die tuig neergelê toe beweringe van grootskaalse viskwotakorrupsie teen hulle op die lappe gekom het.
Hulle is albei sedertdien in hegtenis geneem.
Geingob het intussen gelas Kawana moet 'n ondersoek in die hele bedryf van stapel stuur om die aard en omvang van korrupsie daarin te probeer peil.
Toe Republikein vir Kawana om kommentaar genader het, het hy gesê hy was besig met 'n vergadering.
Hy het daarna nie op SMS-vrae oor die PDM se beroep dat hy hom aan die ondersoek onttrek, gereageer nie.
DIERGAARDT PDM SE KHOMASDAL-KANDIDAAT
Intussen het Ngaringombe gister gesê mnr. Reggie Diergaardt, die oudonderwyser, kerkman en politikus, gaan die PDM se kandidaat wees vir die Khomasdal-kiesafdeling tydens volgende maand se tussentydse verkiesing.
Diergaardt het gesê teen die tempo wat die land se hulpbronne geplunder word, behoort veiligheidswagte langs die kuslyn aangestel te word om te verhoed dat die see kaalgesteel word.
Hy sal hom beywer om armoede en werkloosheid te bekamp.
Hiernaas sal hy ook seker maak die Khomasdal-kiesafdeling se bejaardes het toegang tot beradingsdienste en ander ondersteuning, het hy belowe.
Diergaardt sê voorts hy sal ook, sou hy verkies word, liefdadigheidsgeleenthede ten bate van almal hou, die omgewing help skoonhou en verseker die jeug het toegang tot opbouende buitemuurse geriewe.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie