Regering in gesprek met Pfizer oor entstof
Daar is nog geen aanduiding wanneer Covid-19-entstof in die land gaan aankom nie.
Ronelle Rademeyer – Namibië is in gesprek met die farmaseutiese maatskappy Pfizer en sy Duitse vennoot, BioNtech, oor die lewering van entstof teen die coronavirus.
Ofskoon die regering in November 'n betaling van N$26,4 miljoen aan die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se Covax-verspreidingskema gemaak het vir die beskikbaarstelling van die entstof teen Covid-19, weet die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste nog nie wanneer hy dit sal ontvang nie.
Op 'n vraag oor wanneer Namibië met inentings sal kan begin, het dr. Kalumbi Shangula, minister van gesondheid en maatskaplike dienste, gister geantwoord: “Dit is 'n baie moeilike vraag”.
Hy sê dit blyk Covax het nog nie met die verkryging en verspreiding van entstof begin nie.
Shangula sê Namibië is reeds sedert Junie verlede jaar met Pfizer oor die verskaffing van entstof in gesprek. Die Pfizer-BioNTech-entstof was die eerste wat goedgekeur is en word reeds in Westerse lande toegedien.
Op 'n vraag of die regering ook die Chinese farmaseutiese maatskappy, Sinovac, se entstof (bekend as CoronaVac) oorweeg, het hy gesê: “Ons hou al ons opsies oop.”
Sinopharm, 'n staatsbeheerde Chinese maatskappy, is ook in die proses om 'n entstof te ontwikkel.
Die ander Westerse entstowwe wat deur die Amerikaanse Voedsel- en Medisyne-administrasie (FDA) goedgekeur is, is dié van Moderna Inc. en die een wat deur die Universiteit van Oxford en AstraZeneca ontwikkel en in Suid-Afrika getoets is.
In Rusland het die Gamaleya Nasionale Sentrum vir Epidemiologie en Mikrobiologie in November, twee dae nadat die aankondiging oor die goedkeuring van die Pfizer-BioNTech-entstof gemaak is, die suksesvolle ontwikkeling van sy entstof, Sputnik V, bekend gemaak.
MOENIE AFRIKA AFSKEEP
Mnr. John Nkengasong, hoof van die Afrika-sentrums vir Siektebeheer en -Voorkoming (CDC), het verlede week in Nairobi, Kenia, aan Reuters gesê die wêreld staar 'n “morele katastrofe” in die gesig indien meer welgestelde wêrelddele soos die Weste hul totale bevolkings inent voordat die entstof Afrikalande bereik.
“Dit sal 'n te lang gewag afgee, aangesien die virus tans soos 'n veldbrand versprei. Die tweede golf is met mening hier (in Afrika),” het hy gesê.
Die getal nuwe Covid-19-gevalle op die vasteland het verlede week met byna 19% toegeneem en die sterftes het met 26% gestyg. Daar is nou meer as 2,7 miljoen mense op die vasteland wat positief getoets het en meer as 64 000 mense het gesterf. Van dié sterftes het meer as 30 000 in Suid-Afrika voorgekom.
In Namibië het nog 501 mense gister positief getoets, terwyl vier sterftes aangemeld is. Twee mans (77 en 35 jaar) in Windhoek, 'n 62-jarige man op Walvisbaai en 'n 63-jarige man op Katima Mulilo het gesterf.
Daar is tans 3 885 aktiewe gevalle in die land. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie