‘Regering bekragtig geslagsgeweld’

’n Omvattende studie – die eerste in Namibië – het bevind LGBT-mense ly dikwels aan die hand van hul geliefdes.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die Namibiese regering bekragtig geslagsgegronde geweld deur sodomie op die land se wetboeke te hou.

Só sê me. Abigail Solomons, ’n bestuurder verbonde aan Positive Vibes (PV), ’n menseregteorganisasie.

“Die regering sê regtig dit is oukei,” het sy Woensdagmiddag by die bekendstelling van bevindings van die Our Voices-veldtog in Windhoek gemaak.

Dié studie het ten doel gehad om agter die kap van die byl van diskriminasie teen lede van die lesbiese, gay, biseksuele en transgender (LGBT-) gemeenskappe en sekswerkers te kom en om dit te help teenwerk.

Adv. John Walters, die ombudsman, het op sy beurt by dié geleentheid gesê Namibië klou in baie opsigte nog aan die verlede vas.

Dit sluit wette uit die koloniale verlede in, sê Walters.

Een voorbeeld is die gemeenregtelike oortreding van sodomie – anale seks met toestemming tussen twee of meer volwasse mans.

Volgens hom is die tyd ryp om die hooggeregshof te vra om te sê of dít ongrondwetlik is al dan nie.

“Wat het ons om te verloor? Ons moenie agter vrees skuil nie.”

Aktiviste sal eendag aan die volgende generasie rekenskap moet gee oor wat hulle gedoen het om die gay stryd te besleg, meen hy.

“Wat sal jy sê? Hoekom was jy bang?”

Die ambassadeur van die Europese Unie (EU) na Namibië, me. Jana Hybášková, sê die land maak plek-plek reeds goeie vordering.

Daar is egter nog baie ruimte vir verbetering, maan sy.

Die studie het onthul onder watter haglike omstandighede LGBT-mense gebuk gaan.

Die studie het bevind sowat 66% van die mense wat daaraan deelgeneem het, is werkloos.

Hiernaas glo 65% van die mense met wie gesprekke gevoer is dit is onwettig om gay te wees, terwyl 15% gesê het hulle weet nie of dit onwettig is nie.

Dít terwyl slegs geslagsomgang tussen mans kragtens die gemenereg onwettig is.

Oor die aard en omvang van sekswerk krap deelnemers aan die studie eweneens kop.

Daar is bevind 35% van die menseregteskendings van dié gemeenskappe vind aan die hand van familie, vriende en bure plaas.

Sowat 21% van die oortreders se identiteit is onbekend, terwyl wetstoepassers – die polisie en korrektiewe owerhede – vir 14% van die menseregteskendings verantwoordelik is.

Die respondente verkwalik gesondheidswerkers vir 5% van die oortredings waaraan hulle onderwerp word.

Die menseregteskendings sluit grotendeels seksuele aanranding, gewelddadige aanrandings en marteling of wrede en neerhalende behandeling in aanhouding in.

Me. Doreen Sioka, die minister van geslagsgelykheid en kinderwelsyn, het onlangs in die openbaar ontken dat die Namibiese regering homofobies is.

Sy het LGBT mense aangeraai om hulle tot die Grondwet te wend as daar teen hulle gediskrimineer word.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer