Rederye sê smokkelaars stryd aan
Ronelle Rademeyer in Dublin - Met US$19 miljard se wildlewe en -produkte soos ivoor en renosterhorings wat jaarliks gesmokkel word, het lugrederye hulle daartoe verbind om nouer met regerings saam te werk en te verhoed dat dit onwettig in tasse of vraghouers vervoer word.
Die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) het tydens sy afgelope algemene jaarvergadering in Dublin, Ierland, ’n resolusie aanvaar ingevolge waarvan dié onwettige handel veroordeel en streng optrede teen smokkelaars beloof word.
Hierdie is ook vir Namibië ’n belangrike stap aangesien die land die afgelope twee of wat jaar al feller deur renosterstropers geteiken word.
Mnr. Tony Tyler, sekretaris-generaal en hoof uitvoerende beampte van Iata, het gesê rederye het ’n verantwoordelikheid om die planeet en sy diverse ekologie te beskerm en daarom het dié vereniging en verskeie van sy lidrederye reeds die Buckingham Paleis-deklarasie onderteken om ’n verenigde taakspan teen die vervoer van gesmokkelde wildlewe en -produkte op die been te bring.
Altesaam 264 lugrederye is lid van Iata, waaronder Air Namibia.
“Hierdie kriminele bendes misbruik die ongelooflike globale lugvaartnetwerk wat ons opgebou het en daarom moet ons as ’n verenigde, globale koalisie teen hierdie smokkelaars optree, hulle vind en dit wat hulle doen, stop sit,” het hy gesê.
Mnr. John Godson, Iata se assistentdirekteur vir die omgewing, het aan joernaliste by hierdie internasionale lugvaartberaad gesê tussen Januarie en Mei vanjaar is meer as 600 kg ivoor en renostershoring en meer as 8 000 reptiele by lughawens oral in die wêreld gekonfiskeer.
Hy sê die onwettige handel in wildlewe en -produkte is ’n reuse-transnasionale smokkelbedryf met ’n jaarlikse waarde van US$19 miljard.
“Renosterstropery het in Suid-Afrika van 13 in 2007 tot 1 175 renosters verlede jaar toegeneem. Verder word sowat 30 000 olifante jaarliks in Afrika vir hul ivoor gestroop,” sê hy.
Volgens hom is die ietermagog die wêreld se mees gesmokkelde dier, met ’n geskatte een miljoen wat die afgelope tien jaar in die natuur gestroop is.
“Met 10% van die globale Bruto Binnelandse Produk (BBP) wat uit toerisme verdien word, sal die uitwissing van spesies en die vernietiging van ekostelsels ’n baie nadelige ekonomiese impak op kwesbare gemeenskappe en natuurgerigte toerisme-organisasies hê.”
Godson sê getuienis wys smokkelaars gebruik rederye vir hierdie onwettige handel, sonder dat die rederye daarvan bewus is. “Die verantwoordelikheid berus steeds by die wetstoepassingsagentskappe, maar lugrederye kan optree as ’n bykomende bron van intelligensie om hierdie smokkelaars aan die kaak te stel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie