Reddingsboeie het ‘morele gevaar’ geword - Gordhan
Die minister het in ’n verklaring gesê die SA regering is nie in ’n posisie om meer geld aan die lugdiens beskikbaar te stel nie.
Philda Essop en Llewellyn Prince – Daar is eenvoudig net nie meer geld van regeringskant vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) nie omdat reddingsboeie ’n “morele gevaar” geword het.
Dít was Dinsdag die ondubbelsinnige boodskap van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, ná ’n vergadering met die vakbonde wat die voortslepende staking by die SAL dryf.
Dié vergadering in Gordhan se kantoor in Pretoria met Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) was deel van pogings om die huidige dooiepunt in die staking te probeer oplos. Die vergadering het plaasgevind op versoek van Irvin Jim, algemene sekretaris van Numsa, en Zazi Sibanyoni-Mugambi, president van Sacca.
Dit was ’n geleentheid om “openhartig en reguit” inligting te deel. Die besonderhede van die salarisonderhandelinge wat deur die SAL-bestuurspan hanteer word, is nie op die vergadering hanteer nie.
Gordhan het in ’n verklaring ná afloop van die vergadering gesê dit moet in gedagte gehou word dat die regering nie in ’n posisie is om meer geld aan die lugdiens beskikbaar te stel nie.
“Die patroon van reddingsboeie het ’n morele gevaar geword.
“Die regering het oor die laaste drie jaar meer as R20,5 miljard in fiskale ondersteuning aan die SAL verskaf. Geen verdere geldelike steun kan aan die lugdiens voorsien word nie. Die regering ondervind ernstige fiskale beperkinge.
“Selfs al was geld beskikbaar, is daar geen regsmeganisme om finansiering in die huidige boekjaar aan die SAL te verskaf nie. Die geld wat die regering oor die volgende drie jaar gaan verskaf, is vir die terugbetaling van die SAL se uitstaande skuld,” lui Gordhan se verklaring.
Die herstrukturering van SAL se bedrywighede word vereis om die lugdiens weer winsgewend te maak.
“Buiten om die inkomste te laat groei, moet doeltreffendheid verbeter en kostes verminder word. Die heronderhandeling van kontrakte, baie teen opgeblase pryse gedurende die era van staatskaping, het tot ’n besparing van meer as R500 miljoen gelei,” lui die verklaring.
Intussen het Christopher Shabangu, adjunkpresident van Sacca, laat Dinsdagmiddag aan eNCA gesê dat die vakbonde in gesprekke met die SAL in Johannesburg was en dat dit “positief” lyk. Hy het dit egter beklemtoon dat die staking sal voortduur totdat ’n ooreenkoms bereik is wat deur hul lede aanvaar word.
Die South African Federation of Trade Unions (Saftu), onder leiding van Zwelinzima Vavi, het Dinsdag in ’n gesamentlike verklaring met Numsa en Sacca aangekondig dat hy van Woensdag af saam met die SAL-werkers sal staak omdat hulle “woedend en ontsteld” is oor die SAL-bestuur se buitengewone houding van onversoenlikheid.
Numsa en Sacca eis ’n 8%-salarisverhoging van die feitlik bankrot SAL, wat weens die staking daagliks nou meer as R52 miljoen verloor.
Die vakbonde het ook hul waarskuwing herhaal aan passasiers om tydens die staking nie met die SAL te vlieg nie “omdat hul veiligheid nie gewaarborg kan word nie. Ons lede wat veiligheidsbeamptes en -tegnici is, staak ook.”
Numsa en Sacca het Maandag gedreig om die hele lugvaartbedryf tot stilstand te bring as die SAL nie aan hul eise gehoor gee nie.
Die vakbonde het verder in hul verklaring gesê hulle baklei teen afleggings, korrupsie en privatisering. “Hierdie is ’n wrede aanval deur die neoliberaal-kapitalistiese ANC-regering waarop die werkersklas moet reageer.
“Alle staatsentiteite kan gered word omdat dit strategiese entiteite met duisende werknemers is. Dit is weens doelbewuste wanbestuur dat hulle tot op die rand van ineenstorting gebring is,” lui die verklaring.
Dr. Michael Cardo, DA-LP, het gesê weens die staking en dreigemente om die lugvaartbedryf tot stilstand te bring, het hy aan die noodsaaklikedienste-komitee van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie geskryf om te versoek dat sekere lugvaartdienste as noodsaaklik verklaar word.
Werknemers betrokke by sodanige dienste mag dan nie staak nie.
Volgens Cardo is die regulering en beheer van lugvervoer in Suid-Afrika reeds in 1997 as ’n noodsaaklike diens geklassifiseer. “Op die heel minste moet vlieëniers en alle tegniese grond- en lugpersoneel wat op enige wyse verantwoordelik is vir passasiers se gesondheid en veiligheid gereken word as werknemers wat ’n noodsaaklike diens verrig. Gegewe die streng veiligheidsregulasies by lughawens en dat baie van die werksaamhede van lugvaartlogistiek-maatskappye spesialiste vereis, is dit moeilik om plaasvervangers in die geval van ’n staking te vind. Dit onderstreep die behoefte om hierdie dienste in die lugvaartbedryf as noodsaaklik te verklaar,” het Cardo gesê.
Intussen het Solidariteit gesê hy sal Donderdag stappe aankondig wat hy oor die bedenklike situasie by die SAL gaan doen.
Prof. Somadoda Fikeni, politieke ontleder aan Unisa, het gesê die SAL kan nie regtig as ’n noodsaaklike diens verklaar word nie. “Eskom voorsien byvoorbeeld krag aan almal, terwyl die SAL slegs dienste aan sommige van ons verskaf.”
Hy het die stakings as ’n “taamlike dilemma” vir die SAL beskryf, want sou die lugdiens sy salarisrekening verhoog, terwyl dit van reddingsboeie van die regering afhanklik is, kan dit ’n negatiewe persepsie skep. “As ’n maatskappy byvoorbeeld ’n aandeel in die SAL wil koop, is daar die kwessie dat die arbeidsrekening verhoog het. Dit is ’n baie ingewikkelde situasie . . .” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie