ReconAfrica voor hof gedaag

Oliemaatskappy dolwe bestaansboerdery om

10 May 2021 | Howe
Ronelle Rademeyer – Reconnaissance Energy Africa (ReconAfrica) het sonder konsultasie of vooraf kennisgewing die natuurlike woud en landerye wat wettiglik deur 'n familie by Mbambi in Kavango-Oos benut word, vernietig om die terrein vir sy tweede toetsgat voor te bereik.

Dit blyk uit die funderende eedsverklaring wat mnr. Andreas Sinonge as woordvoerder van die Kalenga-familie van Mbambi by die hoërhof in Windhoek ingedien het. Hy verduidelik daarin waarom hy vra vir 'n bevel wat ReconAfrica gelas om pad te gee van hul kommunale grond af en die gebied te herstel na wat dit voorheen was.

Die ander respondente in die saak is die Nasionale Petroleumkorporasie (Namcor), wat 10% van die aandele in ReconAfrica besit, die Shambyu tradisionele owerheid, asook die ministers van myne en energie, landbou, water en grondhervorming en die omgewing, bosbou en toerisme.

Sinonge sê in die hofstukke sy familie benut sedert 1968 wettiglik die grond vir 'n bestaansboerdery en eis in die hoërhof in Windhoek dat die hof ReconAfrica en die Shambyu tradisionele owerheid gelas om dit aan hom terug te besorg.

Verder vra hy ReconAfrica en Namcor moet opdrag kry om die bogrond weer op te vul en hul landerye te hervestig. Die Regshulpsentrum staan hom met dié aansoek by.



N$289,91 miljoen hupstoot

Intussen het ReconAfrica Woensdag bekend gemaak hy het 'n ooreenkoms met Haywoord Securities Inc. gesluit ingevolge waarvan laasgenoemde 2,632 miljoen eenhede ter waarde van C$25,004 miljoen (Kanadese dollar) in dié nuwe Kanadese olie- en gasmaatskappy sal opneem. Dit is N$289,91 miljoen.

Elke eenheid verteenwoordig 'n gewone aandeel, sê ReconAfrica. Die verwagting is dat die transaksie op 26 Mei beklink sal word, lui die verklaring wat in Vancouver, Kanada, uitgereik is.

“Die netto opbrengs van die aanbod sal gebruik word vir die seismiese en boorwerk, asook as werkskapitaal en vir algemene korporatiewe gebruike,” lui die verklaring.

ReconAfrica het dieselfde dag in 'n ander verklaring gesê hy het begin om sy tweede toetsboorgat, bekend as 6-1, tot op 'n diepte van 3 800 m te boor.

Die doel van dié boorwerk is om die petroleumstelsel wat tydens eksplorasiewerk by die eerste toetsgat (6-2) by Kawe ontdek is, “in 'n gebied van maksimum digtheid” te evalueer, sê ReconAfrica.

'n Ondersoekspan van Namibia Media Holdings (NMH) het Mbambi sowat twee maande gelede besoek. Lugfoto's toon hoe etlike hektaar bome en landerye van die Kalenga-familie vernietig is om die boorterrein voor te berei en slikdamme te maak.

Sinonge se hofgeding volg kort nadat wyd in die internasionale media berig is oor hoe pastoor Andreas Mawano sy kommunale tuiste by Kawe op soortgelyke wyse verloor het.

Mawano het in Maart aan Frank Steffen van Allgemeine Zeitung tydens 'n besoek aan die gebied gesê hy is nie vooraf ingelig oor hoe die boorbedrywighede by Kawe sy lewe sou ontwrig nie. “Hulle het eenvoudig my grond gevat,” het hy vertel.

ReconAfrica het intussen op Facebook en Twitter gesê hy is bewus van die mediaberigte oor Mawano se grond.

“Ons het kennis geneem van die kommer en het onvermoeid gewerk om duidelikheid en konsensus te verseker en om die saak behoorlik te takel.

“Al die partye – ReconAfrica, die leierskap van die tradisionele owerheid, pastoor Andreas en sy gesin – is betrokke en ons hoop om binnekort 'n punt te bereik van duidelikheid, konsensus en toewyding,” het die oliemaatskappy op sosiale media gesê.

ReconAfrica het aangedui dat hy Sinonge se aansoek gaan teenstaan. Die aansoek sal op 21 Mei gehoor word.

[email protected]

Soortgelyk

 

Profeet TB Joshua sterf

3 ure gelede | Mense

Die bekende evangelis en filantroop, past. Temitope Balogun (TB) Joshua, is dood.Is het Saterdagaand, 'n week voor sy 58ste verjaardag, in Lagos, Nigerië gesterf, berig...

Polisieman in Kuisebmond doodgesteek

12 ure gelede | Misdaad

'n Konstabel wat by die polisiekantoor in Kuisebmond diens doen, is in die vroeë oggendure Saterdag dood nadat hy naby sy meisie se huis deur...

Ses sterftes stoot syfer oor 900, 480 nuwe gevalle

18 ure gelede | Gesondheid

Ses nuwe sterftes stoot die totale syfer vir Namibië oor die 900-kerf tot 905. Die sterftes is vier in Windhoek en een elk in Outjo...

Covid-19: Gevalle styg in 24 uit 35 distrikte

23 ure gelede | Gesondheid

Namibië bly in die kloue van ‘n nuwe brander Covid-19-infeksies.Gedurende die sewe dae tot Donderdag het nuwe gevalle in 24 van die land se 35...

22 sterftes, 596 nuwe gevalle

1 dag gelede | Gesondheid

Die Covid-19-verwante sterftesyfer vir Namibië skiet met nog 22 - 12 in Windhoek, twee in onderskeidelik Rehoboth en Walvisbaai, drie in Mariental en een elk...

Rehoboth soek strenger aandklok-monitering teen Covid

1 dag gelede | Gesondheid

Die United People's Movement (UPM) het die streeksbevelvoerder van die polisie in die Hardapstreek, komm. Andries van der Byl, gevra vir polisieversterkings op Rehoboth sodat...

Beesvleisforum vorder met abattoirplan

2 dae gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer – ’n Groep bekommerde beesprodusente wat ten alle koste Namibië se nismarkte in die buiteland vir die voortbestaan van dié bedryf wil beskerm,...

Avonturier verdrink byna tydens riviervaart

2 dae gelede | Mense

Ronelle Rademeyer – ’n Suid-Afrikaanse avonturier wat verlede week ná 55 dae en 2 200 km in sy geel roeiboot die Oranjerivier se monding by...

Harmse on unlimiting the future

2 dae gelede | Mense

Barney Harmse was born in Mafikeng in South Africa in 1970 and his family moved to Namibia when he was just four years old. From...