• Tuisblad
  • Sport
  • Razor hou vol hy wil Britse Leeus in SA help afrig
Razor hou vol hy wil Britse Leeus in SA help afrig
Razor hou vol hy wil Britse Leeus in SA help afrig

Razor hou vol hy wil Britse Leeus in SA help afrig

Rugby
Die Crusaders se afrigter, Scott Robertson, sê hy sal tevrede wees om enige breiersrol vir die Britse en Ierse Leeus op hul toer na Suid-Afrika te vervul. Dit hoef nie noodwendig 'n formele hulpafrigters­pos te wees nie

Robertson, alombekend as Razor, het verlede maand gesê hy het die Leeus-afrigter, Warren Gatland, 'n mede-Nieu-Seelander, genader oor 'n plek in sy afrigtingspan vir die toer volgende jaar, omdat hy die ­behoefte het om internasionale ervaring op te doen.

Dít kom nadat Robertson einde verlede jaar nie suksesvol was in sy aansoek om die All Blacks se nuwe afrigter te word nie.

Sy versoek aan Gatland is egter nie uit alle oorde verwelkom nie en Ian McGeechan, wat die Leeus op vier toere afgerig het, het in 'n rubriek geskryf Gatland benodig hulpafrigters wat beter met die spel en spelers in die Noordelike Halfrond vertroud is.

Robertson het in reaksie hierop aan die Nieu-Seelandse media gesê hy wag steeds om van die Leeus te hoor en dat hy bereid is om uit te help waar hy ook al kan.

“Dit kan 'n kans vir my wees om te groei as 'n mens en af te rig saam met mense wat verskillende denkwyses en vaardighede in 'n spesiale groep het.

“Ek sal tevrede wees om Andy Farrell te help met verdediging, 'n meer gespesialiseerde rol, wat hom sal help om die beste uit die groep te kry.

“Jy benodig hulp. Jy het toetse en wedstryde in die week. Afrigtingspanne is groot en hulle het baie spelers.”

Robertson, soos McGeechan te kenne gegee het, word as een van die beste afrigters in die wêreld gereken nadat hy die Crusaders tot drie opeenvolgende Superrugby-titels, asook die kroon in vanjaar se Nieu-Seelandse Aotearoa-reeks gebrei het.

“Ek het energie en passie om waarskynlik nog baie langer by die Crusaders af te rig, maar ek dink ook aan die tydsberekening van geleent­hede elders,” het hy bygevoeg.

“All Black-poste, internasionale rolle, my oë is oop. Ek is 'n Crusader, my lojaliteit is hier. Maar daar gaan 'n tyd kom wanneer ek 'n besluit moet neem oor wat reg vir my afrigtingsloopbaan is.”



MARK JONES OP ­AFRIG-'CRUSADE'

Namibië se agterlyn-afrigter by verlede jaar se Wêreldbeker het ook tot die Crusaders se triomftog in ­Aotearoa bygedra.

Die voormalige Walliese vleuel Mark Jones is vroeg vanjaar met 'n kontrak van 24 maande as verdedigings­afrigter in Christchurch aangestel onder Robertson se leierskap.

In 'n onderhoud met WRU.wales het Jones gesê die franchise se volgende uitdaging lê nou in die Mitre-beker voor, wat deur Nieu-Seeland se topprovinsies betwis word.

“Die laaste 12 maande was vir my wonderlik, ná die Wêreldbeker in Japan saam met Phil Davies en Namibië. Dit was 'n ontsaglike geleentheid en uiteraard het ons ook teen die All Blacks gespeel.

“Om van daar af reguit by Superrugby en Rugby Aotearoa in te spring, was 'n belewenis. Om eerlik te wees, het ek nog nie tyd gehad om dit heeltemal te verwerk nie, maar ek geniet dit terdeë.”

Jones sê die een aspek van die atmosfeer in die Crusaders wat hy die meeste geniet, is alle betrokkenes se begeerte om deurentyd te verbeter.

“Hul voorbereidende werk weg van die speelveld staan vir niks terug nie.

“Dis nie 'n geval dat 'n oefensessie verby is, ek het my ekstra werk afgehandel, ek het my ysbad gedoen, nou gaan ek huis toe nie.

“Sesuur stuur hulle vir jou 'n bood­skap, jy kan vir hulle 'n video van die oefening WhatsApp, of uitgaan vir 'n koffie ná oefening.

“Almal wil net beter word – van die seun wat van hul akademie af aansluit, tot die All Black wat reeds 150 wedstryde vir die Crusaders gespeel het.

“Hul atmosfeer is so aansteeklik. Dis die grootste kompliment wat ek hulle kan gee.”– Netwerk24 en WRU.wales

Kommentaar

Republikein 2025-08-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer