Ratel(taai) teen gemsbok en Jakkals

Francoise Steynberg
Die spreekwoord lui nie verniet “so taai soos 'n ratel” nie. 'n Suid-Afrikaanse natuurfotograaf, Dirk Theron, het 'n kwaai ratel by 'n watergat in die Etosha Nasionale Park afgeneem wat 'n ­gemsbok ­verskeie kere bestorm het. Hy het sy foto's vir Africa Geographic se Fotograaf van die Jaar ­2018-kompetisie ingeskryf. “Die ratel het water gedrink en die gemsbok sonder ­enige ­waarskuwing aangeval. Die gemsbok het 'n paar treë teruggetree, maar die ratel het weer gestorm. Die ­gemsbok het die ratel met sy kop op die grond geslaan en met sy horings sowat ses meter in die lug gegooi,” skryf Dirk aan Africa Geographic. “Ek het gedink die ratel is dood, maar hy het net effe onvas op sy voete opgestaan en die gemsbok weer bestorm!” Hy sê dít het omtrent vier keer gebeur tot die gemsbok tou opgegooi het en die hasepad gekies het. Dirk sê die volgende dag het die ratel sowaar weer 'n swartrugjakkals getakel en die bosse ingejaag. “­Afrika is vol verrassings!” Kundiges meen die ratel kan dalk hondsdolheid onder lede hê. Foto's Dirk Theron/Africa Geographic

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer