Rassiste op tronkstraf, stywe boetes gewys
Rassiste op tronkstraf, stywe boetes gewys

Rassiste op tronkstraf, stywe boetes gewys

Politieke wil en konsekwente optrede deur wetstoepassers moet toesien dat rassiste ingevolge die bestaande wetgewing vervolg word, meen 'n regskenner.
Ellanie Smit
Ellanie Smit



'n Windhoekse prokureur het in die lig van die jongste vlaag van rassistiese opmerkings in die sosiale en ander media gemaan mense wat aan dié misdryf skuldig bevind word, kan ná 'n skuldigbevin­ding tot 15 jaar agter tralies deurbring.

Mnr. Eben de Klerk van ISG Namibia wys daarop 'n oortreding van artikel 11 van die wet op die verbod van ­rassediskriminasie is strafbaar met 'n boete van N$100 000 of 15 jaar tronkstraf, of beide.

De Klerk sê Namibië is gedoem as die betreurenswaardige voorvalle van rassisme wat die afgelope tyd in die land aangemeld is, voortduur.

Hy sê die wêreldwye Black Lives Matter (BLM)-protesoptogte wat spruit uit die vermeende moord op die Amerikaner George Floyd deur ­polisielede in Minneapolis, het ook die soeklig op die voorkoms van ­rassisme in Namibië laat skyn.

De Klerk sê verskeie onlangse voorvalle in die land is bewys hiervan. Dit sluit in die “skokkende ­rassistiese aanvalle deur wit mense op Facebook, asook die brief deur 'n swart leser in The Namibian wat vra vir die sistema­tiese doodmaak van wit mense, wat hy monsters noem, en waaraan alle swart mense voortdurend moet deel hê”, sê hy.

“Ons ervaar reeds 'n gebrek aan 'n nasionale identiteit en ons politici is skynbaar gefokus op identiteitspolitiek.

'n Toename in hierdie betreurenswaardige tipe van rassisme is 'n agteruitgang en kan nie 'n enkele ­Namibiër bevoordeel nie,” het De Klerk gesê.

Hy wys daarop dat artikel 11 van die wet op die voorkoming van rassediskriminasie bepaal niemand mag enige taal gebruik of enige geskrewe materiaal publiseer of versprei, of enige daad doen wat daarop gemik is om 'n mens of groep mense te dreig of te beledig op grond daarvan dat hulle aan 'n bepaalde rassegroep behoort nie.

Dit bepaal verder dat niemand haat tussen verskillende rassegroepe of mense wat aan verskillende rassegroepe behoort, mag veroorsaak, aanmoedig of aanhits nie. Idees wat gegrond is op rassemeerderwaardigheid, mag ook nie versprei word nie.

“Hierdie verbod sal definitief van toepassing wees op al die sake waaroor tans in die media berig word – van wit mense wat haat spoeg teenoor swart mense op sosiale media, tot swart mense wat vra vir die uitwissing van wit mense in die gedrukte media,” sê De Klerk.

Hy sê ongelukkig is die wets­toepassings- en openbare beskermings­agentskappe berug vir hul inkonsekwentheid, en soms ­onvermoë, om sulke sake te vervolg.

“Die probleem is nie die beskikbaarheid of gepastheid van die ­bestaande wet nie, maar die afwesigheid van ­politieke wil in die regering, wetstoepassings- en openbare beskermingsagentskappe om klagte in terme van artikel 11 noukeurig en konsekwent te hanteer. ”

Hy sê baie jare gelede was daar, as voorbeeld, die poging tot vervolging van 'n swart man wat tydens 'n openbare optog 'n plakkaat vertoon het met die woorde “Kill all whites”.

“Niks het daarvan gekom nie en die saak is laat vaar. Die vraag is hoeveel erger moet iemand se optrede wees om vervolg en gestraf te word soos dit deur die wet bedoel is.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer