Randgemeenskappe nie vergete
Randgemeenskappe nie vergete

Randgemeenskappe nie vergete

Maria Eiseb
Die afdeling vir randgemeenskappe (gemarginaliseerde gemeenskappe) in die kantoor van die president het ’n verslag uitgereik oor hoe studente uit diè gemeenskappe in terme van opvoeding ondersteun word en hoe die regering dié gemeenskappe deel van die land se sosioëkonomiese landskap maak.

Mnr. Gerson Kamatuka, adjunkdirekteur van dié afdeling, het in die verslag gesê Namibië se regering erken die San-, Ovatue- en Ovatjimba-gemeenskappe as voorheen gemarginaliseerde gemeenskappe van Namibië.

Volgens hom het hul kantoor riglyne vir studenteondersteuningsprogramme ingestel om te verseker die gemeenskap is goed ingelig en dat belangstellendes wat daarvoor kwalifiseer, aansoek doen.

Die aansoekproses vind jaarliks van September tot November plaas, waarna die kantoor van die afdeling en keuringskomitees in die streke geskikte aansoekers op grond van vasgestelde kriteria kies, het hy gesê.

Diè afdeling het reeds studente en leerlinge wat vir studiehulp in aanmerking kom in Januarie en Februarie vanjaar aan verskeie plaaslike onderriginstansies ingeskryf.

Verder is aangedui die registrasieproses was ‘n groot sukses en het al amptelik op 31 Januarie vanjaar tot die volgende aansoekperiode vir die 2019- akademiese jaar geëindig.

Na afloop van die inskryfproses het die afdeling uit sy beperkte hulpbronne 'n klein bedrag aan elke student toegeken in die vorm van ’n maandelikse toelaag vir toiletware en skryfbehoeftes tot tyd en wyl die Finansiële Hulpfonds vir Studente (NSFAF) se toelaes beskikbaar is.

Vanjaar ondersteun diè afdeling studente en leerlinge aan verskeie onderwysinrigtings.

Die Namibiese Kollege vir Afstandonderrig (Namcol) het vanjaar 'n bedrag van sowat N$17 000 gebruik om leerlinge uit randgemeenskappe by hul instellings te ondersteun, het Kamatuka gesê.

Die presidensie speel, deur middel van die afdeling vir randgemeenskappe, ’n ouerlike rol teenoor baie studente uit randgemeenskappe terwyl hulle hul studies in Windhoek onderneem.

Volgens die verslag is 'n aansienlike deel van die afdeling se begroting aan opvoedkundige ondersteuning toegeken om sodoende die doelwit van integrasie te bereik.

Ongelukkig het dit finansiële druk op die afdeling se begroting geplaas namate die program uitbrei om meer studente te ondersteun.

Onderhandelinge met die NSFAF word dus tans onderneem om alle studente van randgemeenskappe na hul stelsel oor te plaas. Dít om seker te maak alle studentekwessies word gesentraliseer en vorm deel van die integrasieproses.

Dit bly die regering se verantwoordelikheid, deur middel van dié afdeling, dat studente en leerlinge se opvoeding nie agterweë gelaat word weens ’n gebrek aan onder meer akkommodasie, klasgelde, etes, vervoer, boeke, skryfbehoeftes en toiletware nie, het Kamatuka bygevoeg.

Volgens hom het die private sektor 'n kritieke rol in die ondersteuning en bevordering van dié gemeenskappe se opvoeding gespeel.

"Ons is dankbaar vir al hul bydraes en ondersteuning - veral teenoor ons hoofborg, First National Bank (FNB), tydens die Terug Skool Toe-veldtog.

“Ons doen verder ’n beroep op gewillige instansies, die private sektor of individue om ons te help om hierdie droom te bewaarheid, want 'n opgevoede nasie is 'n voorspoedige nasie in die gees van Harambee.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer