Rand wat skommel, raak genoteerde eiendom
Rand wat skommel, raak genoteerde eiendom

Rand wat skommel, raak genoteerde eiendom

Jo-Mare Duddy Booysen
Elma Kloppers



Vir genoteerde eiendomsgroepe is dubbelsyfergroei in uitkerings voorlopig iets van die verlede te midde van die politieke onsekerheid en ekonomiese teenwinde.

Die norm in uitkeringsgroei in dié uitdagende omgewing met erge skommelings in die rand, is deesdae gemiddeld 7% tot 8% en dit gaan nie gou verander nie.

“Dit is steeds ''n gesonde syfer wat inflasie klop, sê Keillen Ndlovu, hoof van Stanlib se genoteerde eiendomsfondse.

Hy sê die onlangse versterking in die rand het die eiendomsgroepe met blootstelling aan die buiteland negatief geraak omdat hulle sensitiewer is vir randbewegings as dié groepe met ''n Suid-Afrikaanse fokus.

Buitelandse blootstelling verteenwoordig tussen 40% en 50% van die Suid-Afrikaanse genoteerde eiendomsektor, sê hy.

“Die sterker rand het die opbrengskoerse van staatseffekte bevoordeel, maar weens hul buitelandse blootstelling kon talle eiendomsgroepe nie voordeel trek uit dié verstewiging nie,” sê hy.

In die jaar tot dusver, was die beste vertoner onder die vier tradisionele bateklasse sover dit die totale opbrengs (inkomste en kapitaal) aangaan, staatseffekte met ''n totale opbrengs van 15,3%. Genoteerde eiendom het ''n totale opbrengs van 8,8% gelewer, kontant 6,1% en aandele 3%.

In die lig van globale en plaaslike wisselvalligheid, raai Ndlovu beleggers in genoteerde eiendom aan om ''n langtermynsiening te handhaaf.

Hy sê faktore wat verdere ekonomiese onbestendigheid tot gevolg kan hê, sluit in die onsekerheid rakende die Amerikaanse presidentsverkiesing, potensiële rentekoersverhogings in die VSA, die gevolge van Brexit en ''n afname in kwantitatiewe verruiming deur die Europese Sentrale Bank (ESB).

Verskeie genoteerde eiendomsmaatskappye het onlangs hul finansiële resultate bekend gemaak.

Vir die jaar tot einde Augustus het Redefine Properties sy uitkering met 7,5% opgestoot tot 86 sent per aandeel. Andrew Köning, uitvoerende hoof, sê sonder twyfel was handels­toestande in die heersende makro-ekonomiese omgewing moeilik. Vir die jaar tot einde Augustus, het Octodec uitkeringsgroei van 6,5% behaal, in ooreenstemming met die verwagting in die moeilike handelsomgewing. Die Delta Property Fund het vir die ses maande tot einde Augustus uitkeringsgroei van 7,1% gelewer. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer