Rand kou klippe oor planne met grond
Rand kou klippe oor planne met grond

Rand kou klippe oor planne met grond

Elvira Wood – Die rand het glad nie van pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging oor planne met die Grondwet gehou nie.

Ramaphosa het Dinsdagaand in ’n vooraf opgeneemde boodskap van sowat sewe minute wat op die SAUK se 24 uur-televisienuuskanaal uitgesaai is, gesê die ANC gaan die Grondwet verander om die omstandighede waarin grond sonder vergoeding onteien kan word, duidelik uit te stippel.

Die besluit is geneem op ’n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), wat Dinsdag in Centurion ten einde geloop het.

Die rand het van ’n hoogtepunt die afgelope paar weke van R13,07 teenoor die dollar, teruggesak tot R13,27.

Dit is ook waar hy Woensdag begin verhandel het, maar hy het teen omstreeks 09:00 tot R13,32 teenoor die Amerikaanse geldeenheid verswak.

Wichard Cilliers, direkteur by TreasuryOne, sê: “Suid-Afrika se politici het ’n buitengewone vermoë om die beleërde ekonomie nóg ’n dwarsklap te gee – juis nou, toe dit lyk of dinge begin rustig raak.”

Cilliers sê dit lyk of die nuutste verwikkeling polities van aard is in aanloop tot die algemene verkiesing van 2019. Hy waarsku dié stap kan “die spel heeltemal verander na gelang van hoe buitelanders die bedreiging vir eiendomsreg gaan sien.”

Die rand het ook teenoor die Britse pond en die euro teruggesak. Die rand het vroeg Woensdagoggend teen R17,38 teenoor die pond en R15,48 teenoor die euro verhandel. Dit was in albei gevalle bykans 10c swakker as Dinsdag.

Ander marknuus

Dinsdag was ook nie ’n goeie dag vir digitale geld nie. Bitcoin het met meer as $500 dollar tot goed onder die $7 500-vlak geval terwyl ethereum sowat $40 dollar gesak het.

Met die hulpbronne staan sake vroeg Woensdagoggend só:

· Goud: $1 221 per fynons

· Platinum: $837 per fynons

· Olie: $73,91 per vat

Digitale geld

· Bitcoin: $7 523,23

· Ethereum: $419,20 – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer