R5 miljoen-duif 'is mos my Ferrari'

Jo-Mare Duddy Booysen
Penelope Shandlale



“Mense sê vir my ek is mal, dat ek 'n Ferrari met daai geld kon koop. Ek sê net vir hulle hierdie ís my Ferrari!”

Só sê Mark Kitch­en­brand van Alberton, nuwe mede-eienaar van Golden Prince, die wedvlugduif wat hy en 'n vennoot die afgelope week vir amper R5 miljoen op 'n veiling in België gekoop het.

Die rekordbedrag van R4,945 miljoen wat Kitchen­brand en Samuel Mbiza betaal het, oortref die vorige rekord vir 'n wedvlugduif met R700 000.

Golden Prince is die onoorwonne langafstandkampioen in België. Hy en sy voorgeslagte is bekend vir hul besonderse uithou- en oriëntasievermoë. Danksy 'n goed ontwikkelde immuunstelsel kan hulle vlugte van 600 km of verder hanteer. “Hy het ongelooflike balans en 'n sterk spierstruktuur. As jy na sy oë kyk, sal jy sien dat hy 'n briljante teelduif gaan wees,” sê ­Kitchenbrand.

Golden Prince gaan nie nou 'n Suid-­Afrikaner word nie, sê hy. Hulle het besluit om hom by die PIPA-­veilingshuis in België te laat bly, waar hy aan 'n nageslag kan werk. Hulle verwag hy sal so 20 peperduur kuikens 'n jaar verwek. Die kuikens kan amper R300 000 een kos en van hulle sal waar­skynlik in Suid-Afrika beland. “Sy vliegdae is verby. Hy gaan nou rustig wees,” sê ­Kitchenbrand. “In die geselskap van drie versigtig gekose henne.”



Opbrengs

Die vennote bereken dat hulle binne twee tot drie jaar 'n opbrengs op hul belegging sal sien.

Wedvlugte is 'n sport waarin afgerigte en geteelde duiwe van spesifieke plekke vrygelaat word en dan na hul hokke terugkeer. “Die duiwe wat die afstand die vinnigste dek en die hoogste snelheid het, word as die wenner aangewys,” sê Kitchen­brand.

Hy sê die Kitchenbrands beskou hulself as die oudste en aktiefste wedvlug-­familie in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse wedvlug-­gildes. Sy familie is al van 1907 in die bedryf doenig en het al meer as 500 wedvlugte ­gewen.

Sy grootste prestasie was toe hy die Sun City Miljoendollar-wedvlug in 2011 gewen het met 'n duif genaamd Victor.

Hy is ook klubkampioen­ van die Transvaal Pigeon Racing Fed­eration en ­beskermheer van die Suid-Afrikaanse ­Na­sionale­ Posduiforganisasie.

Kitchenbrand het in 2008 die nuus gehaal toe hy 'n duif, Birdy, vir R800 000 – destyds ook 'n buitengewoon hoë prys – gekoop het.



Mbiza

Mbiza, 'n sakeman van Walkerville wat 'n sokker­akademie besit en 'n stigting vir minderbevoorregte kinders begin het, het eers twee jaar gelede aan wedvlugkompetisies begin deelneem.

Hy was een van Kitchenbrand se kliënte voordat hulle vennote geword het.

“Hierdie gaan my die geleentheid gee om wedvlugte aan swart gemeenskappe, en veral die minderbevoorregte gemeenskappe, bekend te stel. Ek wil kinders van alkohol en dwelms weghou,” sê Mbiza. Hy beplan om Soweto se eerste wedvlugklub te stig.

Anders as 'n Ferrari, kan jy wedvlugduiwe nie verseker nie. “Dit is 'n onderneming, en soos enige ander onderneming is daar verliese. Die duiwe is soos mense. Hulle kan siek word. Hulle word soms deur katte of valke gevang. Dan is dit maar net 'n verlies,” sê Kitchenbrand gelate.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer