R2,5 miljoen-boete as jy met Note 7 vlieg
R2,5 miljoen-boete as jy met Note 7 vlieg

R2,5 miljoen-boete as jy met Note 7 vlieg

Jo-Mare Duddy Booysen
Buiten dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) dié week die berugte Galaxy Note 7 op sy vlugte verbied het, kan passasiers wat met dié foon gevang word met tot R2,5 miljoen beboet word.

Die Amerikaanse Federale Lugvaartadministrasie het vroeër 'n noodbeperking/verbodsbevel op die Note 7 uitgereik wat sê dit is 'n federale oortreding om in besit van so 'n toestel aan boord enige vlug te wees.

Die SAL het roetes na Amerika toe.

“Enige persoon wat versuim om aan die bevel te voldoen is onderhewig aan boetes van tot US$179 933 (of ongeveer R2,5 miljoen) vir elke oortreding vir elke dag wat hulle die bevel oortree het.”

“'n Persoon wat hierdie bevel verontagsaam kan ook onderhewig wees aan vervolging wat kan lei tot die boetes soos genoem in punt 18, tronkstraf van tot tien jaar of albei,” sê die bevel.

Samsung het wêreldwyd kiosks in lughawens geplaas waar die omstrede Note 7-toestelle omgeruil kan word.

Die Samsung Note 7 het sinoniem geword met verskeie berigte van ontploffende toestelle.

Die kiosks was oorspronklik net in Suid-Korea beskikbaar, maar Samsung sê hy gaan meer beskikbaar stel – ook in Amerika.

Die SAL het Dinsdag gewaarsku passasiers kan vervolg word as hulle in besit van so 'n toestel op 'n vlug is.

“Ons vra almal moet aan die versoek voldoen om moontlike komplikasies in enige stadium van hul reis te vermy,” het Tlali Tlali, woordvoerder vir die SAL aan Fin24 gesê.

“Ons wil nie graag sien dat enige passasier verontrief word deur die moontlike konfiskering van 'n toestel of as hulle beboet word nie,” sê hy.

Tlali waarsku passasiers dat hulle vervolg kan word wanneer hulle by hul eindpunt kom, insluitende in Amerika en Asië.

Die Suid-Afrikaanse Burgerlike Lugvaartowerheid beveel ook aan dat lugdienste en ander operateurs verseker dat passasiers en bemanning nie die toestelle aan boord neem nie hetsy aan hul persoon, handbagasie of in die vragruim.

– Netwerk24/Fin24

Kommentaar

Republikein 2025-09-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer