QSB oefenkamp help met 2017 se doelwitte

Atletiek
Andrew Poolman
Die 24ste jaarlike Quinton-Steele Botes (QSB) atletiek oefenkamp en afrigterskliniek sal vandeesweek oor vier dae strek. Die verrigtinge begin môre (Woensdag) by die Onafhanklikheidstadion in Windhoek en duur tot Saterdag.

Oor die laaste 23 jaar het 'n gesamentlike 700 atlete, afrigters, onderwysers en ouers hier byeengekom om hul kennis en vernuf van atletiek te deel en te verbreed.

Die idee vir die kamp is gebore en tot uitvoer gebring deur die sportkonsultant en sportadministrateur wyle Quinton-Steele Botes, wat in Junie 2014 ná 'n lang stryd teen kanker oorlede is.

Die nalatenskap van sy droom word tans deur vriende soos die plaaslike afrigter Leoni van Rensburg voortgedryf, wat verseker dat die oefenkamp steeds tot die beskikking is van elkeen wat die nuwe atletiekseisoen op die regte noot wil begin.

Van Rensburg het aan die nuusagentskap Nampa gesê planne word reeds gesmee om die 25ste bestaansjaar volgende jaar na behore te vier met die grootste byeenkoms in die geskiedenis.

Volgens haar is die fokus van die kamp daarop gerig om aan atlete en atletiekbeamptes die nuutste beskikbare tegnieke, driloefeninge en toepaslike inligting oor te dra. Op dié manier kan verseker word dat die atlete toegerus is om in 2017 hul vorige beste prestasies te verbeter.

Borge soos Marathon Sugar, Coca-Cola, Bank Windhoek, Wimpy, Arebbusch Lodge, Olympia Liquor Shop, Avis Rent-a-Car, Dunlop 2000, TrenTyre, Hyundai, Food Lovers Market en Remax Welwitschia maak dit moontlik vir atlete en afrigters van dwarsoor Namibië om voordeel uit die 24ste QSB oefenkamp te trek.

Atlete sal onderrig word in dissiplines soos naellope, middel- en langafstande, aflosse, hekkies, verspring, driesprong, hoogspring, paalspring, gewigstoot, diskusgooi, spiesgooi en hamergooi.

Die koste van inskrywings beloop N$300 vir atlete vanaf kleuters vanaf ses jaar (naellope) tot laerskoolvlak. Hoërskool- en gevorderde atlete se deelname beloop N$450 elk.

Registrasie word môre vanaf 07:00 gedoen. Die amptelike opening volg om 08:00.



INSTRUKTEURS

'n Paar kundiges uit Suid-Afrika sal in samewerking met die plaaslike instrukteurs hul vernuf aan die atlete en afrigters oordra.

Jonathan Greyvenstein sal aan die stuur van die hoogspring staan. In dié item het hy tevore bekende Suid-Afrikaners soos Charmaine Gail en die gewese jeug-, junior en senior wêreldkampioen Jacques Freitag onder hande geneem.

Lynly de Beer van die Universiteit van Johannesburg neem die leiding in die hamergooi, diskusgooi en gewigstoot. Hy is een van die mees ervare afrigters in Suid-Afrika op hierdie gebied.

Namibië se eie nasionale rekordhouer Roger Haitengi deel sy ondervinding in die driesprong (hy is 'n gewese brons medaljewenner by die Afrika-kampioenskap) en die verspring.

Hannes von Holtz se kundigheid sal tot die beskikking van die spiesgooiers gestel wees.

Die voormalige Namibiese hekkieshardloper Charmaine Smith is die nasionale rekordhouer en het op Statebondvlak meegeding. Sy is ook 'n IAAF vlak 3-afrigter vir die kort en langer hekkiesitems.

Nog sestien opgeleide Namibiese afrigters en bekende aktiewe atlete sal by die oefenkamp rigting gee, naamlik Lucky Gawanab, Johann Mouton, Sherwin Vries, Antoinette Nell, Norah Schultz, Chantelle van der Berg, Jolien Jacobs, Nakali Tangeni en Wilhelm Rademeyer.

Die verbintenis van hierdie instrukteurs tot die Namibiërs se sukses en hul ondervinding is dus bo verdenking en die oefenkamp beloof dus om soos in die verlede van groot waarde te wees vir atlete wat groter doelwitte in 2017 wil najaag.

- Nampa en eie berig

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer