Pyplyn vir oostelike boorgate
Pyplyn vir oostelike boorgate

Pyplyn vir oostelike boorgate

Tanja Bause
Tanja Bause - 'n Waterpyplyn wat die oostelike boorgate met die sentrale waterreservoir in Windhoek verbind, word tans in Klein Windhoek aangelê.

Die kruising by Metjestraat en Nelson Mandelalaan sal gevolglik vir die volgende vier dae vir verkeer gesluit wees.

AN Construction is verantwoordelik daarvoor om die nuwe waterpyplyn vanaf die Avisdam tot by die sentrale waterreservoir aan te lê.

“Ons is nou besig met fase twee en lê die pype vanaf Metjestraat tot by Nelson Mandelalaan aan.

“Van daar af loop die pyp tot by die Dagbreek-skool waar dit dan links met John Ludwigstraat tot by Hebenstreitstraat sal loop. Op die hoek van Sam Nujomalaan draai die pyp links tot by die Avisdam. Die pyplyn vanaf die Avisdam is reeds aangelê en die punte word daar verbind,” het mnr. Armand Nederhof van AN Construction gesê.

Fase een het die aanlê van die waterpyplyn vanaf die Avisdam tot by die verbindingspunt en vanaf Metje­straat tot by die sentrale waterreservoir behels.

Fase twee behels die stuk in die middel.

Die aanlê van die pyplyn van agt kilometer sal sowat agt maande duur, met fase een wat reeds in November 2016 begin is. Spesiale pype is uit China ingevoer.

“Dit is staalpype wat binne met sement uitgevoer is en dit het 'n lewensduur van 100 jaar. Die pype kan ook water na boorgate terugvoer sodra die damme weer vol genoeg is. Dit is so gemaak dat dit water na beide kante toe kan lei,” het hy gesê.

Omdat die pype van staal gemaak is, kan dit nie buig nie en is die konstruksie ingewikkeld, want daar is verskeie ander elektriese kabels, waterpype, stormwaterdreine en rioolpype onder die grond.

“Soos ons die slote grawe, kom ons op al die ander pype en lyne af. Ons moet dan besluit of ons dieper gaan om die waterpyplyn onder die ander pype deur te vat, of vlakker gaan om dit bo-oor te lê. Dit is hoekom die aanlê van die pyplyn so lank vat,” het Nederhof gesê.

Daar is tans 'n bestaande pyplyn wat na die kleiner Parkquell-waterreservoir lei. Vandaar lei 'n ander pyplyn die water tot by die sentrale waterreservoir.

“Dié pyplyn is baie oud. Dit lei nie reguit na die groot, sentrale waterreservoir nie, daarom maak die direkte, nuwe een meer sin,” het hy gesê.

Inwoners word gemaan om gedurende die konstruksieproses versigtig te ry en op die uitkyk vir die werkers te wees.

Kommentaar

Republikein 2025-06-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer