Pylvak na premierliga-kroon bereik

Premierligaklubs sal oor die volgende twee naweke die samestelling van die halfeindronde bepaal.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Net twee rondtes van 50-beurtwedstryde bly oor vir die eerste spanne van CCD Tigers, Ceiling Centre WHS Old Boys en Samsung FNB Wanderers in Krieket Namibië se premierliga voordat die semifinale op 13 Maart aanbreek.

Vir die MR24/7 Welwitschias en Trustco United is sake ietwat moeiliker, met elk net een wedstryd oor. Streng gesproke is dit neusie verby vir die kusspan om nog enigsins 'n aanspraak op die semifinale te maak.

Vir die Tiere sal hul finale posisie op die ligaleer belangrik wees. Hul derde plek met 67 punte kan môre verstewig indien hulle United (vierde op 47) kan hokslaan.

Die CCD Tigers speel môre op hul tuisveld teen United. Die Filistyne het verlede Saterdag vir Wanderers op Gemsbokpark aan die begin van hul botsing in 'n stewige kopklem beetgehad, maar het toe die skietgoed gekort om die finale uitklophou te plant.

Die ervare, koelkop kolwers van die Wit Hingste, insluitend Michau du Preez (46), was ten einde laaste baas om die kragmeting met vier paaltjies te red.

Hierteenoor het die Tiere op hul tuisveld bo-oor die Welwitschias gestoomroller vir 'n klinkende oorwinning met 100 lopies. Die besoekers sal beslis op hul vertoning van laas naweek wil voortbou, maar dan sal die kolwers 'n veel stewiger bydrae met die kolf moet lewer.

In Pionierspark verwelkom Wanderers die heersende titelhouer WHS Old Boys, wat die afgelope seisoen in een botsing die knie moes buig. Die gasheer wat tans breëbors en onoorwonne in die eerste posisie op die punteleer lê, kan egter allesbehalwe gerus wees teen kaptein Zane Green en sy sterbelaaide span vol potensiële wed­stryd­wen­ners.

Wanderers is tans eerste met 97 punte, terwyl Old Boys die tweede posisie met 93 punte beklee. Tuisveldvoordeel kan die gasheer 'n hupstoot gee, maar Old Boys het telkens in die verlede gewys hoe gevaarlik hy in Pionierspark kan wees.

Beide wedstryde begin om 09:30, met streng Covid-19-maatreëls wat steeds geld.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer