PwC: Mynbou moet sy beeld poets
PwC: Mynbou moet sy beeld poets

PwC: Mynbou moet sy beeld poets

Die bedryf moet in navorsing en innovasie belê om meer toepassings vir hul produkte te vind, volgens Andries Rossouw van PwC.
Elvira Wood

As die mynboubedryf beleggers wil lok, sal hy sy beeld moet poets sodat gewone mense verstaan watter rol dié bedryf in hul alledaagse lewe speel.

Die bedryf moet in navorsing en innovasie belê om meer toepassings vir hul produkte te vind, het Andries Rossouw, vennoot vir mynwese en energie by PwC, Dinsdag gesê toe PwC se jongste Mynbouverslag bekend gestel is.

Die verslag – die 16de wat PwC uitreik – is op die Junior Indaba in Auckland Park, Johannesburg, bekend gestel.

Rossouw sê mynmaatskappye moet werk maak daarvan om vir gewone mense te wys hulle “grawe nie net gate” nie.

“Hulle moet aan verbruikers wys hoe wat hulle doen die tegnologie moontlik maak wat verbruikers elke dag gebruik,” sê hy.

Luidens PwC se verslag is daar net een “suiwer” Suid-Afrikaanse maatskappy onder die top-40 in die wêreld.

AngloGold Ashanti was in 2018 nommer 35 op die lys. In 2017 het hy nie die top-40 gehaal nie.

Die gesamentlik markwaarde van die top-40 het in 2018 met 18% tot US$757 miljard gedaal vergeleke met die vorige jaar. Hul gesamentlike inkomste was wel 8% hoër op US$683 miljard.

PwC verwag nie dat die bedryf in die 2019-’20-boekjaar kop gaan optel nie.

Die koste het die afgelope jaar met 8,6% gestyg en Rossouw voorspel dat dié styging gaan voortduur.

DIREKTEURE

PwC sê mynmaatskappye moet ook fokus op wie hulle as direkteure aanstel.

Luidens die verslag is 27% van die direkteure van die top-40 maatskappye tussen 65 en 80 jaar oud – 2% van die direkteure is selfs ouer as 80 jaar.

Net 17% van direkteure is tussen 35 en 50 jaar oud.

“Dit is tyd dat mynmaatskappye jonger individue op hul direksies aanstel.

“As die mynboubedryf hom wil posisioneer as ’n bedryf vir die toekoms, moet hy besin oor diegene wat aan die hoof daarvan staan,” sê Rossouw. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer