Pula is koel en warm
Pedro Vorster
In antieke tye het warm bloed in die arena se sand weggesypel terwyl onder in koel kelders handel gedryf en olywe gepars is.
Vandag is Pula in Kroasië, aan die Adriatiese See, meer gemoedelik, vriendelik en gemaklik soos ‘n mens sou verwag van ‘n studentestad.
Katte skree, akkedissies skarrel en seemeeue roep waar eeue gelede krete van pyn en plesier opgeklink het. Die Romeinse keisers Claudius en Flavius maak beurte, en rondom 45 v.C. tot 67 n.C. bou en onderhou hulle hier een van die ses grootste, bes bewaarde amfiteaters ter wêreld.
Hy is ‘n bielie. Sy buitenste kalkklipmuur staan oor die 32 m hoog. Die Romeine het nie gespeel as dit by bou kom nie. Twee meter dikke kolomme dra grasieuse boë wat vergesigte raam. Op elke verdieping word dit ritmies herhaal.
Die eerste indruk van die Pula-arena is respek. Dit is ‘n ontsagwekkende gebou. Gebou? Eerder konstruksie. Die massiewe stutpilare en boë maak dit ‘n stadion met integriteit.
Die briljante Romeinse ingenieurs maak voorsiening vir ondergrondse gange waaruit wilde diere en vegters peul om die sowat 23 000 toeskouers te vermaak. Die arena is die enigste Romeinse amfiteater waarvan vier torings nog staande is. Elkeen van die torings het twee watertenks gedra waaruit die toeskouers besprinkel is met parfuumwater. Val die reën, is die amfiteater bedek deur reuse-velaria (seile). Onder die sitpekke was stoorkamers en winkels, en is besigheid ewe kalmpies bedrywe.
By een arena-uitgang lê ‘n groot, glad afgewerkte, kliniese vierkantige blok. Die hoogte en grootte maak dit uitsonderlik geskik vir ‘n operasietafel. Ek wonder of gewondes se wonde hier toegewerk is, en dan beslis is of hulle weer die arena ingestuur moet word.
Nou swerm toeriste en Sjinese deur die antieke Pula-arena, soekende na ‘n aanknopingspunt met ‘n bloeddorstige verlede.
Tydens die 1940's, met die opkoms van fascisme, loop die Duitsers en Italianers grootbors hier rond. Laasgenoemdes se invloed lê steeds vlak, al vind daar gedurende Desember 1946 en September 1947 ‘n reuse- Italiaanse eksodus plaas, aangeblaas deur Moeder Italië. Die verminderde stemme veroorsaak dat die Italiaanse naam “Pola” vervang word met die Kroatiese “Pula” en die stad word offisieël tweetalig.
Ons bly by Ivana aan die onderste punt van ‘n middelklasvoorstad, net te na om te ry en te ver om te loop na die middestad. Ons verdwaal elke keer as ons dit op straat waag. Die vervalle huise se kleurryke fasades lyk later almal dieselfde. GPS-loos teken ek raadop staproetekaarte wat soos tydreninstruksies lyk. Dit help.
Puliane rook. Ernstig. Dit lyk of elke tweede persoon in die publiek sy dampie slaan. Veral vroue sal sonder om te blik of te bloos digte tabakwolke laat bol oor baba, kind en kleuter. Rook mag gewild wees, maar so ook is roomys, veral gedurende die rare opeenvolgende Mei-sonskyndae wat ons ervaar. Hier is kombinasies van geure waarvan ek nog nie eens gehoor het nie. Die suurder tipes is veral lekker.
Die grootste akwarium op die Kroatiese skiereiland lê so drie kilometer van Pula se middelpunt. Die geskiedkundige, Oostenryks-Hongaarse fort Veruda is aangepas om diverse seelewe in verskeie reusetenks te huisves.
Sak die son, begin ‘n kleurespel op die Uljanik-skeepswerf. Op die kaaie toor reusekolligte die groot krane meer kraanvoël as hyser.
‘n Laberint tonnels deurkruis die stad en daar word bespiegel dat die sewe heuwels van Pula só verbind is. Die gallerysale en tonnels is kort voor die Eerste Wêreldoorlog uit die rots gekap en kan 50 000 siele skuiling bied, net mooi Pula se bevolking.
Die bomskuilings is natuurlik nou oop vir almal, net nie dwarsdeur die jaar nie. Ons kom tot voor “Zerostrasse” die hoofingang, maar die dubbele triomfboog-toegangshekke, die Porta Germina, is geketting en gesluit. Belangstellendes sal wys wees om eers navraag te doen na besigtigingstye voordat hulle die strate invaar.
Dit maak nie saak nie. Ons het buitendien verdwaal.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie