Puik jaar vir goudprys verby u2013 wat nou?
Puik jaar vir goudprys verby u2013 wat nou?

Puik jaar vir goudprys verby – wat nou?

Hanlie Stadler - Die goudprys, wat in 2017 met 13,5% gestyg het, het die nuwe jaar ook op die voorvoet begin.

Die edelmetaal se prys het vir die agtste dag in 'n ry gestyg – die langste lopie sedert middel 2011. 2017 was goud se beste uit sewe jaar, selfs al het die dollar teenoor die meeste groot geldeenhede verswak. Goud het 2016 op US$1 147,50 per fynons afgesluit en 2017 op US$1 302,80.

Gister teen 11:00 het goud verder veld gewen tot selfs US$1 310,45. Die prys het in die laaste week van 2017 deur US$1 300 per fynons gebreek, die hoogste in drie maande.

Goud se styging in 2017 het gekom selfs al het die Federale Reserweraad van die VSA drie keer die rentekoers verhoog. Nog drie rentekoersverhogings word vir 2018 verwag, wat 'n demper op die goudprys kan plaas.

Jeffrey Halley, senior mark­ontleder van die valutahandelaar Oanda in Singa­poer, beskou goud as “oorgekoop”, wat beteken dat die prys dalk later vanjaar kan daal.

Vir eers gaan die prys egter dalk styg omdat die vraag na goud in die aanloop tot die Chinese Nuwejaar op 16 Februarie sal styg.

– Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2025-10-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer