Prys van ystererts hou00ebr, maar . . .
Prys van ystererts hou00ebr, maar . . .

Prys van ystererts hoër, maar . . .

Jo-Mare Duddy Booysen
Hanlie Stadler

Die mark se opti­misme oor China se groter vraag na staal het die ysterertsprys vanjaar al ’n hupstoot van 44% gegee. Maar dié optimisme is dalk bietjie misplaas, reken ver­skeie ontleders.
Ystererts se prys is die afgelope weke bo US$60 per ton danksy groter staalproduksie in China, wat op sy beurt aangevuur word deur ’n oplewing in China se eiendomsektor.
Die prys van ystererts met ’n 62%-ysterinhoud het Maandag met 3,6% gestyg en Dinsdag met 4,1% tot US$62,85 per ton, wat die styging vir die jaar op 44% bring.
Die prys van ystererts het die vorige drie jaar gedaal en die prys is steeds net ’n fraksie van die vyfjaarhoogtepunt van meer as US$180 per ton wat in Januarie 2011 gehaal is en die algehele rekord van meer as US$200 per ton van Maart 2008.
Die bankgroep Citigroup reken dat die prys weer in die tweede helfte van die jaar gaan daal omdat daar steeds ’n enorme oorskot van ystererts op die wêreldmark is.
Daar is wel hoop dat ­produksie aan die daal is, wat die prys tans ondersteun.
BHP Billiton, die wêreld se grootste mynboumaatskappy en ystererts­produsent, het gister aangekondig hy gaan 4% minder ystererts by sy Australiese myne lewer as wat vroeër verwag is. Dit word toegeskryf aan slegte weer en onderhoud aan die groep se spoornetwerk.
Rio Tinto, die wêreld se tweede grootste ysterertsprodusent, het Dinsdag ook aangekondig sy produksie gaan daal weens vertragings in die projek om selfbesturende treine op dreef te kry in Pilbara, die Australiese streek ryk aan ystererts.
Die beleggingsbank UBS het Dinsdag gesê die daling in produksie is goeie nuus vir die ­ysterertsprys.
Angus Nicholson van die makelaarsfirma IG sê ook laer produksie kan uiteindelik help om die mark te balanseer.
BHP Billiton, Rio Tinto en ander groot produsente het tot 2015 nog volstoom hul produksie verhoog in ’n poging om mark­aandeel te behou. Dit het kleiner pro­dusente, wat kleiner winsgrense het, uit die mark gedruk. Dit is waarskynlik die rede waarom selfs die mynreus Anglo American vroeër vanjaar aangekondig het hy gaan sy ystererts­myne verkoop, insluitend sy belang in Kumba Iron Ore en sy enorme Minas ­Rio-ystererts­projek in Brasilië, waarop hy al US$14 miljard bestee het.
- Netwerk24/Sens/Bloomberg/Infomine.com/CNBC

Kommentaar

Republikein 2025-06-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer