Proteksionisme se opmars
Proteksionisme se opmars

Proteksionisme se opmars

Tot dusver in 2016 het ontevredenheid gelei tot twee “monumentale” politieke gebeure waar kiesers in ryk lande hoofstroombeleid en die establishment verwerp het ten gunste van voorheen ondenkbare alternatiewe, sê ''n ekonoom.
Francoise Steynberg
Neil Joubert - Die afgelope paar jaar was daar ’n geleidelike, maar versnellende opbou van misnoeë onder groot dele van bevolkings in ontwikkelde markte weens hul verswakkende ekonomiese omstandighede.

Dit is tekenend dat ’n oorgrote meerderheid van huishoudings in dié lande geen verbetering in hul reële inkomstevlakke oor die laaste dekade ervaar het nie, sê Sanisha Packirisamy, ekonoom van Momentum.

Volgens die Financal Times het Amerika die hoogste ongelykheid onder hoë inkomste lande en die snels groeiende ongelykheid onder die sewe voorste hoë inkomste ekonomieë.

Tot dusver in 2016 het hierdie ontevredenheid gelei tot twee “monumentale” politieke gebeure waar kiesers in ryk lande hoofstroombeleid en die establishment verwerp het ten gunste van voorheen ondenkbare alternatiewe, sê Packirisamy.

Eers Brexit, toe die Britte in Junie onverwags gestem het om die Europese Unie te verlaat.

En Woensdag het die Amerikaners vir Donald Trump as president verkies, ook ’n verrassing, en met ’n geïmpliseerde mandaat om die status quo omver te werp.

Volgens Packirisamy gaan hierdie tendens waarskynlik voortduur in die jare wat kom. Verskeie “politieke risiko-gebeure” vind oor die volgende paar jaar in Europa plaas. Sien tabel.

“Die breër stembasis wat diep verwyderd voel van die huidige stelsel, kan hul ontevredenheid tasbaar laat blyk deur op ’n onkonvensionele manier te stem,” sê sy.

Die algemene gevolge vir beleggings

Packirisamy sê een van die grootste gevolge is die toename in nasionalisme ten koste van internasionalisering omdat kiesers eersgenoemde toenemend beskou as meer voordelig vir hulself.

Die gevolg is dat proteksionisme wêreldwyd vinnig veld wen.

As proteksionistiese maatreëls wêreldwyd ingestel word deur hoër invoertariewe, sal kostestrukture wêreldwyd toeneem en dit sal die reële opbrengste van bateklasse oor die algemeen wegkalwe, sê Herman van Papendorp, hoof van batetoewysing van Momentum.

Hy sê ontluikende markte was stellig die grootste wenners van globalisering en het voordeel getrek uit die vrye vloei van handel en kapitaal na hul ekonomieë. ’n Internasionale beweging na proteksionisme gaan dus ontluikende lande die hardste tref, sê Van Papendorp.

Ontwikkelde lande gaan ook nadelig geraak word en die gevolg sal wees dat maatskappye se inkomste internasionaal stadiger gaan groei, wat uiteindelik die aandele- en effektemark gaan raak, sê Van Papendorp.

“Hoewel Suid-Afrikaanse aandele waarskynlik nie die negatiewe internasionale impak van groeiende proteksionisme kan vryspring nie, is die realiteit dat ’n oorheersende deel van die mark positief geposisioneer is vir ’n waarskynlik verswakkende rand, en dit behoort dié bateklas (aandele) in ’n mate te beskerm.”

As ’n fundamentele oorgang van globalisering na proteksionisme wel plaasvind, sal dit waarskynlik gepaardgaan met toenemende onsekerheid en gevolglike wisselvalligheid in die finansiële markte, sê Van Papendorp.

BLOKKIE

Kalendar van politieke risiko

Desember 2016

Italië – grondwetlike referendum

Maart 2017

Nederland – algemene verkiesing

April-Mei 2017

Frankryk – presidentsverkiesing

Augustus-Oktober 2017

Duitsland – algemene verkiesing

Mei 2018

Italië – algemene verkiesing

September 2018

Oostenryk – algemene verkiesing

Swede – algemene verkiesing

Bron: RMB Morgan Stanley, Momentum Investments

Kommentaar

Republikein 2026-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer