Proteas beplan hoe om draaiers te tem
Proteas beplan hoe om draaiers te tem

Proteas beplan hoe om draaiers te tem

Krieket
Altus Momberg – Die minder wip op kolfblaaie op die subkontinent maak dit moeiliker vir Suid-Afrikaanse kolwers om teen draaibalboulers sukses te behaal. Rassie van der Dussen, die Proteas se nr. 3-kolwer, het verduidelik hoekom dit probleme vir die SA kolwers op die subkontinent skep.

Van der Dussen het gepraat nadat die Pakistanse bybreekbouler Yasir Shah ’n skrikbewind teen die Proteas se kolflys in die eerste toets in Karatsji gevoer het. Hoewel Shah net sewe paaltjies laat kantel het, het dit soms gevoel asof hy met elke bal een kon neem.

Van der Dussen sê ’n gebrek aan wip laat die druk oplaai.

“Die draaiers op die subkontinent boul vroeër in die beurt en die bal is dus nuwer.

“Wanneer draaiers in Suid-Afrika met ’n nuwer bal boul, is daar meer wip en glipveldwerkers speel ook ’n groter rol. Dit is wel moeiliker vir ’n bouler om ’n been-voor-paaltjie-beslissings te kry, aangesien die bal oor die paaltjies wip.

“Maar hier op die subkontinent wip die bal minder en dus kom been-voor-paaltjie-beslissings algemeen voor,” sê Van der Dussen.

Die tweede toets begin Donderdag in Rawalpindi.

Van der Dussen, wat Sondag sy 32ste verjaardag vier, het 17 en 64 in die eerste toets in Karatsji aangeteken. Amper meer belangrik as die lopies, was egter die 205 minute wat hy in die tweede beurt voor die paaltjies deurgebring het.

Verlede week se nederlaag met sewe paaltjies was Van der Dussen se eerste toets op die subkontinent.

“Ons het baie gepraat oor wat om te verwag en het baie goed voorberei,” het hy Maandag op ’n Zoom-nuuskonferensie gesê.

Die toestande in Rawalpindi kan ook van dié in die eerste toets verskil.

“Dis baie kouer hier in Islamabad as in Karatsji. My eerste gevoel toe ons hier aangekom het, was dat dit byna soos winterkrieket op die Hoëveld voel. Die buiteveld voel ook baie harder (as in Karatsji).”

Van der Dussen het nogmaals beklemtoon dat hy en sy spanmaats glad nie tevrede met hul kolfvertoning in die eerste toets is nie.

“Ons almal weet hoe belangrik eerstebeurt-lopies op die subkontinent is. Wanneer jy die geleentheid kry om eerste te kolf in goeie kolftoestande, dan moet jy dit uitbuit.

“As ons ’n telling van 350 in die eerste toets pleks van 220 gekry het, was dit ’n heel ander toets,” sê Van der Dussen. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer