Protea-vroue sal bid vir nóg reën Doer Onder
Krieket
Marnus Kok
Die reëngode kan straks verseker dat die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan die eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi haal – sonder dat die Proteas 'n enkele bal in die halfeindstryd hoef te boul.
Dit is die effens bisarre stand van sake met reën wat die res van die week vir Sydney, Australië, voorspel word waar die twee halfeindstryde môre beslis moet word.
Suid-Afrika se laaste groepwedstryd, gister teen die Wes-Indiese Eilande, is juis weens die eendeweer afgelas, met geen spel wat moontlik was nie.
Albei spanne het een punt gekry. Dit het die Proteas, wat reeds verseker was van 'n plek in die halfeindronde, boaan groep B laat eindig. Engeland is in die tweede plek.
Dit is die eerste keer dat Suid-Afrika boaan sy groep in die toernooi eindig en slegs die tweede keer (benewens 2014) wat hy die halfeind haal.
Suid-Afrika kom nou teen die gasheerland te staan, wat tweede in groep A ná Indië klaargemaak het.
Sou môre se halfeindstryd weens die nat weer afgelas word, sal die span wat eerste in sy groep geëindig het, tot die eindstryd deurdring.
Daar is nie 'n reserwedag opsy gesit indien reën die halfeindstryde in die wiele ry nie, maar wel vir Sondag se eindstryd.
Dít is in teenstelling met die Wêreldbeker-toernooi vir mans in eendagkrieket wat in 2019 in Engeland en Wallis beslis is. Nieu-Seeland het Indië toe in die halfeindstryd met 18 lopies geklop, nadat spel op die reserwedag voltooi moes word.
Die reëls in die vroue se T20-WB bepaal dat elke span in die uitspeelwedstryde minstens tien boulbeurte moet afstuur in die geval van reën vir 'n uitslag om moontlik te wees.
Australië sal dus hoop dat indien daar wel môre spel tussendeur die verwagte eendeweer moontlik is, hy darem 'n kans kry om sy eie lot te bepaal.
GESKIEDENIS TEEN HULLE
Hoewel die Proteas glo hulle het die skietgoed om die Aussies te klop, is die werklikheid dat hulle die Aussies nog nooit in dié formaat van die spel kon klop nie.
Toe Suid-Afrika en Australië in Februarie kort voor die aanvang van die WB in 'n oefenwedstryd slaags was, het die Aussies met vier paaltjies in Adelaide gewen.
Die Aussies se kanse om hul titel suksesvol te verdedig, het 'n verdere terugslag gekry met Ellyse Perry wat weens 'n dyspierbesering die res van die toernooi gaan misloop.
Die 29-jarige Perry, 'n toporde-kolwer en naatbouler, het volgens 'n verklaring van die IKR die besering in die Aussies se laaste groepwedstryd, teen Nieu-Seeland, Maandag in Melbourne opgedoen.
• Pakistan was gister ewe dankbaar dat die reën hulle gered het, toe die toernooi se verrassingspakket Thailand 150/3 opgestel het vir hulle om te jaag. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie