Projek wil plaaswerkers se lewens verbeter

Landbouwerkgewers het ‘n projek begin om plaaswerkers se lewensomstandighede te verbeter.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Namibiese kommersiële boere het hulle daartoe verbind om ’n verskil aan die lewens van hul plaaswerkers te maak.

Beter behuising vir plaaswerkers, voorsiening vir aftrede, goeie interkulturele kommunikasie en opleiding is van die elemente waaraan kommersiële boere tans aandag gee om die werksomstandighede op plase te verbeter en vir werkers beter lewens te skep.

Mnr. Hellmutt Förtsch, voorsitter van die Landbouwerkgewersvereniging (LWV), het gister tydens die vereniging se 32ste kongres in Windhoek gesê ’n nuwe projek gaan oor die volgende drie jaar daarop fokus om landbou-arbeid aantrekliker en mededingender te maak.

Hy het verwys na pres. Hage Geingob se versoek verlede jaar aan kommersiële boere tydens die tweede nasionale grondkonferensie om die lewensomstandighede van plaaswerkers te verbeter.

Förtsch sê hoewel baie inisiatiewe in die verlede al in dié verband onderneem is, gaan die nuwe projek toegewyd daarop fokus om landbou-arbeid se rol in die nasionale ekonomie ter ondersteuning van die Harambee-welvaartsplan en die vyfde Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP5) te versterk.

‘n Opname deur die LWV onder sy lede oor die soort behuising op plase toon sowat 86% van arbeidershuise is met stene gebou en het ‘n gemiddelde vloeroppervlak van sowat 42 vierkante meter.

Die opname wys die huise het gemiddeld 2,5 vertrekke en dit is gemeet aan nasionale pryse gemiddeld N$143 000 werd.

Sou die werkers wat daarin woon huur moes betaal, sou dit ongeveer N$960 per maand beloop het.

In 56% van gevalle deel plaaswerkers ablusiegeriewe. Die res het private badkamergeriewe.

Hierdie syfers is deur die ondervoorsitter van die LWV, me. Christine Stoman, met afgevaardigdes gedeel.

Sê sy buiten die neerlê van riglyne vir minimum behuisingstandaarde, wil die LWV deur die projek sy lede ook motiveer om die nodige aftredebeplanning vir hul plaaswerkers te doen. Dit sluit in om hulle te help om ’n erf op die dorp te bekom waar hulle ‘n huis kan oprig om te gaan woon nadat hulle afgetree het.

Stoman het ook daarop gewys dat plaaseienaars deur annuïteite of spaarplanne vir werkers ’n neseier vir hulle moet help opbou.

Intussen het mnr. Craig Deall, ’n Zimbawiër wat in 2003 sy grond en besittings weens grondgryping verloor het, landbouwerkgewers gister aangemoedig om met ander oë na hul werkers te kyk.

Hy sê hy het as uitvoerende hoof van Foundations for Farming, wat mense in Afrika toerus om produktief te boer, besef as ’n mens ’n land wil herbou, moet jy die mense uit armoede ophef.

Hy sê voor hy alles in Zimbabwe verloor het, het hy na sy plaaswerkers as ‘n bate gekyk wat vir hom moes geld inbring.

“Ek het nie na hulle in die beeld van God gekyk nie. Ek het God liefgehad en hulle regeer, pleks van om hulle ook lief te hê,” het hy gesê.

Deall het gesê baie boere bestuur hul mense deur die hele tyd die wortel van vergoeding of die stok van straf voor hul neuse te hou. “Mense moenie die werk doen omdat hulle dissipline vrees nie, maar omdat dit vir hulle lekker is om die werk te doen en hulle vreugde daarin vind.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer