Projek baat by Lu00fcderitz se eerste windpark
Projek baat by Lu00fcderitz se eerste windpark

Projek baat by Lüderitz se eerste windpark

Tanja Bause
Tanja Bause - “Dié projek is daarop gemik om bewusmaking oor windenergie te skep en om die vroue van Lüderitz te bemagtig.”

So sê mnr. Asser Ndakolonkoshi Mukapuli, ’n gebore Buchter wat in 2006 die Lüderitz-windkragdemonstrasieprojek begin het. “Die projek is op die been gebring om met windkrag te eksperimenteer, te kyk hoe dit werk en nuwe tegnologie uit te toets.”

Hy het finansiering vir twee klein windturbines van die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP) ontvang. Een van die turbines is by die sekondêre skool op Lüderitz opgerig en die ander een by die streeksraad se kantoor.

“Ons het besluit om die een turbine by die skool op te rig om kinders se belangstelling in hernubare energie te kweek en om hulle bewus en nuuskierig te maak. Die een by die streeksraad was om in die algemeen bewustheid te skep en dit het gewerk. Mens het begin belang stel,” sê Mukapuli.

Die twee windturbines het krag begin genereer en Mukapuli moes ’n plan maak om dit te gebruik.

“Ek het ’n paar vroue genader en gevra of hulle nie tekstiele wil vervaardig en die krag van die turbines in die proses wil gebruik nie. Ons het drie van die vyf vrou vir opleiding gestuur en só het die naaldwerkprojek begin.”

Nedbank het geld geskenk vir die aankoop van naaimasjiene en materiaal en die projek het begin produseer.

In 2012 het die Universiteit van Namibië (Unam) Mukapuli genader om ’n vennootskap aan te gaan. Finland se ministerie van buitelandse sake het die windkragprojek geborg en drie groot windturbines is opgerig.

Mukapuli, wat by die ministerie van visserye as ’n mariene wetenskaplike gewerk het, het die naam Benguela Wind Park voorgestel.

“Tans verskaf die Benguela Wind Park net krag aan die naaldwerkprojek, wat beteken dit word glad nie ten volle benut nie,” het Mukapuli gesê.

Hy het grond by die dorpsraad gekry waarop hy nou hoop om ’n tekstielfabriek op te rig sodat die krag gebruik kan word.

“Ons wil uitbrei sodat ons tenders vir onder meer die vervaardiging van skooluniforms, verpleeguniforms en die maak van klere vir gevangenisse kan wen. Die klere sal gemaak word met die krag wat deur die Benguela Wind Park opgewek word terwyl die vroue van Lüderitz bemagtig word. Daar is nie baie werksgeleenthede vir vroue op Lüderitz nie.”

Volgens hom is die windpark ’n “gemeenskapsidee vir die gemeenskap” wat die wind as ’n hulpbron gebruik. “As ons nie viskwotas kan kry nie, kan ons windkwotas kry en gebruik om die gemeenskap op te hef.”

Volgens Mukapuli het hulle nou verniet krag, maar die projek het hulp nodig om uit te brei.

“Ons benodig nog naaimasjiene en ’n groter gebou om die projek te huisves sodat ons meer vroue kan werk gee. Dan moet ons tenders en bestellings kry. Ons kan uniforms, oorpakke en klere vervaardig. Ons kan dit hier in Namibië doen, vir Namibiërs. Ons hoef nie alles in te voer nie.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer