Proewe gee Booysen opsies om mee te werk

Sewesrugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Dit was nie grappies toe proewe en fiksheidstoetse die naweek gehou is om 'n nasionale oefengroep vir Namibiese sewesrugby te begin uitsif nie.

'n Gesonde totaal van 36 spelers was Saterdag en Sondag by die Hage Geingob-stadion betrokke. Vaardigheidstoetse, asook toetse vir kondisionering op die veld en in die gimnasium is uitgevoer op die spelers wat hulle aangemeld het. Dit was benewens die proefwedstryde wat elkeen nog verder beproef het.

Die groot geelwortel vir sewesrugby tans is die nasionale span se deelname aan die Hongkong Sewes in April vanjaar. Namibië sal daar met sy ander uitdagers meeding om 'n plek in die HSBC Wêreldreeks te probeer verdien.

Internasionale sewesrugby is nie 'n taak vir snuiters nie – soos Kenia en Suid-Afrika laas November by die Safland Sewes op Swakopmund kom wys het.

“Ons het die spelers nogal hard gedruk. Dit was nie sommer net vir kom speel nie. Ons is nogal aangenaam verras met die getalle en die vlak van kondisionering,” het die nasionale sewesspan se hulpafrigter en spanbestuurder, Robbie Dickson, gister aan die koerant gesê.

Dickson en die Namibiese afrigter, Jurie Booysen, sal vroeg dié week hul uitsoekgroep aan die Namibië Rugby-unie vir goedkeuring en bekendmaking voorlê.

Laas naweek het hulle egter heelwat meer opsies gehad in vergelyking met September 2016, toe hulle pas aangestel was en net 'n hand vol spelers vir die proewe opgedaag het.

Spelers van nege Namibiese klubs (Unam, Western Suburbs, Trustco United, Kudus, Reho Falcon, Rehoboth rugbyklub, Wanderers, West Coast Sharks en Jaguars) was die naweek betrokke.

Voeg hierby nog 'n klompie talentvolle jonges wat hul rugby by unies in Suid-Afrika speel en die afrigterspan het gewis rou materiaal gekry om mee te werk. Dit sluit spelers met nasionale o.20-kleure soos Eathan Beukes, Cliven Loubser en Janry du Toit asook Henning Snyman III in wat reëlings getref het om by die proewe teenwoordig te wees.

In terme van kontinuïteit was dit egter opvallend dat enkele staatmakers wat verlede jaar Namibiese seweskleure gedra het, die naweek afwesig was. Die beswaarde klubs se politieke protesaksie, beserings en ander persoonlike verpligtinge is waarskynlik faktore wat tussenbeide kon getree het.

Dickson is uitgevra oor die status van 'n klompie United-spelers wat as vrywilligers met knyperborde ('clipboards') rond­geloop en punte-tellings aan elke speler se vertoning tydens die driloefeninge en kondisionering aangeteken het. Dickson het beklemtoon dat net hyself en Booysen as keurders optree, maar dat die vrywilligers wel behulpsaam was om data op die oefenveld te versamel.

Soos gebruiklik sal spelers wat die nasionale groep haal, weekliks hul oefensessies op Swakopmund of in Windhoek kan bywon in die opbou na die internasionale deelname.

Kommentaar

Republikein 2025-10-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer