Produsente staan sterk ondanks uitdagings
Produsente staan sterk ondanks uitdagings

Produsente staan sterk ondanks uitdagings

Ronelle Rademeyer
Ondanks die ergste rampdroogte in menseheugenis en die enorme druk waaronder alle boerderybedrywe buiten hout­skoolproduksie verkeer, is produsente se moraal steeds goed.

Die Namibië Landbou-unie (NLU) sê in sy nuusbrief streeks- en ­bedryfsverteenwoordigers het verlede week tydens die uitvoerende raad se vergadering in Windhoek gesê produsente ondersteun mekaar en die moraal is steeds goed.

Die NLU sê alle bedrywe met die uitsondering van die houtskoolbedryf ervaar tans ongekende druk. “Dit sluit in 'n totale misoes met droë­landmielies, die moont­like sluiting van die suiwelbedryf as gevolg van die lae vlak van die Hardapdam, permanente internasionale druk op die trofeejagbedryf, die pluimveebedryf wat teen buitelandse invoere moet veg, asook die geweldige uitdagings in die Swakarabedryf. Dit vind boonop plaas teen die agtergrond van die grootste rampdroogte in menseheugenis.”

Die unie sê in sy nuusbrief dit is belangrik dat produsente na mekaar uitreik, idees uitruil oor hoe om die droogteramp te oorkom en mekaar moreel ondersteun.

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer