Privaatskole bloei ook
Privaatskole bloei ook

Privaatskole bloei ook

Uit 'n groep van 24 privaatskole is net 6% van ouers staatswer­kers wat geen inperkings in hul salarisse gehad het nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Privaatskole in Namibië onder die vaandel van die Namibië Privaatskole Organisasie (Napso) het tussen 5% tot 20% van hul skoliere direk vanweë finansiële redes in die Covid-19-pandemie verloor.

Napso bestaan tans uit 24 geaffilieerde privaatskole met meer as 7 000 leerlinge en 700 ­onderwysers. Volgens Napso se uitvoerende hoof, mnr. Wouter Niehaus, is 48% van Napso-skole se ouers betrokke by onder meer toerisme, wilds- en jagplase – 'n sektor wat die ergste deur die pandemie getref is.

Meer as 50% van die betrokke ouers bedryf hul eie ondernemings, met van hul inkomste wat tussen 40% en 100% verminder het.

Net 6% van die ouers is staatsdiens­amptenare wat steeds 'n salaris sonder enige inkorting ontvang.

“Dit is onmoontlik vir dié 6% om die res van die ouers te dra,” het Niehaus gesê.

Volgens hom is veral privaatskole op die platteland die swaarste getref, grootliks vanweë hul betrokkenheid by toerisme en wildsplase, twee bedrywe wat volgens hom “100%” tot stilstand gedwing is.

“Hierdie mense was nog altyd die ruggraat van dié skole, want dit is die ouers wat die jagpakkette skenk, veilingkommissie gee, jagkaartjies verkoop en kinders langs die sportvelde ondersteun. Nou skielik kry hul geen inkomste om enige van hierdie hulp aan te bied nie,” het Niehaus ­verduidelik.

Die voordeel van privaatskole in stede is dat hulle 'n “groter, meer diverse gemeenskap” het wat hulle finansieel ondersteun en dus ook 'n groter finansiële plan vir inkomste op die tafel het.

Niehaus sê dit is “eenvoudig onmoontlik” vir vele ouers om ná vaste uitgawes soos huur, mediese fonds, water en elektrisiteit, ook nog N$3 000 en meer vir skoolfonds te betaal as hul inkomste met 50% of meer verminder het.

Volgens hom word 60% tot 80% van uitgawes by privaatskole direk deur skoolfonds gedek.

“In hierdie tyd waar almal swaar trek, is privaatskole se hulpfondse en persone op wie gewoonlik gesteun word om bystand te lewer, totaal ­uitgeput.”

Wanneer die skool 'n leerling as gevolg hiervan verloor, is nie net die skoolfonds verlore nie, maar ook 'n familie wat help by kermisse en skoliere wat sport- en ­kultuurspanne volmaak.

Niehaus beklemtoon privaatskole word deur banke as besighede beskou wat maandeliks hul uitgawes moet dek om voort te bestaan.

“Die meeste van hierdie skole is niewinsgewende maatskappye en alle fondse word net so in die skool, leerders en onderwysers ­teruggeploeg. Daar is dus geen ekstra wins deur die jare opgebou wat nou skielik benut kan word nie en soos met enige privaat­maatskappy in hierdie land kan 'n bank ook net so lank geduldig wees en fasiliteite beskikbaar stel.”

Sou die skool nie meer sy koste soos lenings en salarisse kan dek nie, sal hulle gewoon insolvent verklaar word, sê Niehaus.

Me. Colette Rieckert, besturende direkteur van Windhoek Gimnasium en die Vereniging vir Privaatskole in Namibië (APSN), sê op haar beurt ledeskole het 3% tot 20% van hul leerlinge verloor wat ook met 'n aansienlike toename in slegte skuld deur ouers gepaardgaan.

Volgens Rieckert is daar verskeie skole in die groep wat hul personeel net 'n gedeeltelike salaris, sommige so min as 25%, kon betaal. Heelwat skole moes ook hul personeel verminder en slegs 'n klein kern onderwysers behou.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer