Prins William op historiese besoek aan Midde-Ooste
Prins William op historiese besoek aan Midde-Ooste

Prins William op historiese besoek aan Midde-Ooste

Prins William het pas begin met ’n toer van vyf dae in die Midde-Ooste. Dit sal ook die eerste amptelike koninklike besoek aan Israel en die Palestynse gebied insluit.

Die hertog van Cambridge sal die Israelse premier, Benjamin Netanyahu, amptelik ontmoet. Hy sal ook ’n besoek bring aan die Palestynse leier, pres. Mahmoud Abbas, in Ramallah aan die Wes-oewer.

Volgens die BBC het die prins Sondag in Jordanië aangekom waar hy die kroonprins, Al-Hussein bin Abdullah II, in Amman ontmoet het.

Kensington-paleis het die “historiese belang van die toer” benadruk en gesê die prins beskou dit as ’n eer en hoop om die vriendskapsbande tussen Jordanië en Brittanje verder te versterk.

70ste herdenking

Die koninklike besoek kom te midde van toenemende spanning in die gebied asook die 70ste herdenking van die staat Israel.

Israelse magte het Woensdag met lugaanvalle op militante plekke in die Gasa-strook teruggeslaan nadat hulle met vuurpyle en mortieraanvalle uit dié gebied bestook is.

Prins William sal na verwagting Jerusalem se ou stad besoek wanneer hy in Israel is. Hy sal ook ’n krans gaan lê by die World Holocaust Remembrance Centre waar die as van slagoffers van die Nazi-menseslagting begrawe is.

Benewens die ou stad, sal hy ook die graf besoek van prinses Alice van Griekeland, sy oumagrootjie en ma van prins Philip, die hertog van Edinburg. –Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer