Prince, Smith, Thami... oral veg Proteas
Prince, Smith, Thami... oral veg Proteas

Prince, Smith, Thami... oral veg Proteas

Krieket
Tinus van Staden – Die krieketlandskap is nou ’n bokskryt. Almal mik houe na almal. En dan blyk dit selfs as jy die houe wil keer, deel jy onbedoeld houe aan ’n ander uit ... wat dan op sy beurt weer wil keer en sodoende nóg houe uitdeel.
Klink dit deurmekaar? Dit is. Die Black Lives Matter (BLM)-beweging in krieket het dié spel in ’n rasse-warboel gedompel.
Die afgelope week moes Graeme Smith, voormalige Protea-kaptein en deesdae Krieket Suid-Afrika (KSA) se direkteur van krieket, as’t ware keer vir sy paaltjies nadat die geskorste oudpaaltjiewagter Thami Tsoleki­le ’n paar streepballe na hom gemik het op die radioaanbieder Robert Marawa se program.
Maar toe maak Smith se verdediging nóg ’n oud-Protea, Ashwell Prince, de josie in!
Tsolekile, wat ’n skorsing van 12 jaar uitdien vir sy aandeel in die knoeiskandaal van 2015, het die laaste twee weke drie keer op Marawa se program verskyn.
Talle beweringe wat hy in die eerste program verlede week oor die knoeiskandaal gemaak het – soos dat net swart spelers geteiken is in die ondersoek – is deur KSA en oudregter Bernard Ngoepe, wat die ondersoek gelei het, verwerp.
Dit het hom en Marawa egter nie gekeer om die afgelope week verder te praat nie en Dinsdag het hy sy visier op Smith ingestel.
Tsolekile was onder meer kwaad omdat hy nie speelkans gekry het toe Mark Boucher in 2012 beseer is nie. AB de Villiers is toe met die groot handskoene toevertrou.
Smith het sy kant van die saak in ’n persoonlike verklaring op Twitter gestel. Hy het daarop gewys dat hy nie die finale sê in spankeuses gehad het nie en dat almal – wit en swart spelers – in die milieu van beroepsport soms te na gekom voel wat spankeuses betref.
Hy het hier vir Shaun Pollock en Lance Klusener as voorbeelde genoem. Smith het ook gesê dat hy self al uit spanne weggelaat is – soos toe Prince op ’n slag ingevlieg is om Smith se plek in die span in te neem.
Prince het glad nie hiervan gehou nie en dit as ’n aanval op hom gesien.
Hy het hom ook tot Twitter gewend, want hy het gevoel hy moet “homself verdedig”. Prince het toe getwiet dat hy wel Smith se plek ingeneem het, maar dat hy wat Prince is goeie spelpeil gehandhaaf het.
Hy sê ook dat hy nog altyd die gevoel gekry het dat Smith hom verwyt en “nou weet ek hoekom”.
Prince tel onder ’n groep van 40 oudspelers wat hul griewe oor ’n gebrek aan transformasie onlangs aan KSA deurgegee het. – Netwerk24, Rapport

FOTO
Ashwell Prince in sy speeldae. Foto: Christiaan Kotze

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer