President, Nantu soek kompromie
‘Geen heronderhandeling’ – Geingob
Estelle de Bruyn
Die Namibiese staatshoof het gister ter elfder ure die onderhandelingspan van die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu) by Staatshuis ontmoet. Dit was ’n poging om op die vooraand van die dringende hofaansoek vanoggend, ’n kompromie oor die beplande staking van môre te bereik.
Teen druktyd gisteraand het hy en senior regeringslui steeds agter geslote deure vergader.
Geingob was vergesel van die visepresident, dr. Nickey Iyambo; die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila; die adjunkpremier, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah; die minister van presidensiële sake, mnr. Frans Kapofi; en die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Katrina Hanse-Himarwa.
Met die opening van die vergadering het Geingob dit duidelik gemaak dat die ontmoeting nie ’n onderhandeling is nie.
“Ek is ook nie hier om te sê julle moenie staak nie. Julle het onderhandel, julle het die voorskrifte van die wet gevolg. Nadat onderhandelinge ’n dooiepunt bereik het, het julle ’n bemiddelaar gekry en toe dit misluk, het julle na jul lede gegaan wat oor ’n moontlike staking gestem het. Byna 100 persent van jul lede het ten gunste daarvan gestem om jul dienste van die kinders te weerhou.
“Baie van ons het dieselfde wet wat julle nou gevolg het, opgestel omdat ons uit ’n apartheidsbedeling gekom het waar mense nie hierdie regte gehad het nie.
“Die besluit om te staak, kom egter op ’n baie ongeleë tyd, net voor die leerders moet eksamen skryf.
“Ek het geveg vir Namibië om in ’n beter posisie te wees. Die realiteit is dat die land moeilike omstandighede beleef. Wêreldwyd word ’n ekonomiese afswaai beleef, ons moet derduisende dollar aan die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SACU) terugbetaal, kommoditeitspryse het geval en baie buitelandse maatskappye wat Namibiese tenders het, het in Amerikaanse dollar getender. Gevolglik toe ons wisselkoers teen ander geldeenhede verswak het, moes ons aansienlik meer vir tenderaars betaal.”
Hy het gesê soos sake nou staan, kan die regering net ’n 5%-verhoging aanbied. Die Namibiese Unie vir Staatsdienswerkers (Napwu) het kort voor sy samesprekinge met Nantu, die ooreenkoms vir 5% méér op hul salarisse, bevestig.
“Dit wil egter nie sê dat ons nie iewers ’n kompromie kan bereik nie. Dit gebeur oral in die wêreld waar mense vir mekaar sê ‘ek kan jou nie betaal nie, maar wel later.’
“Ek wil julle niks ontneem nie, maar as vader van die Namibiese huis kan ons maar sit en sake bespreek en as Namibiërs hande vat,” het Geingob aan Nantu gesê.
Die president van Nantu, mnr. Kavila Simeon, het die president daarop gewys dat hy ook die streekverteenwoordiger van Swapo in die Omusatistreek is. Hy was vergesel van ander lede van die Nantu-onderhandelingspan.
Hy het sy waardering vir die uitnodiging uitgespreek en gesê Nantu wag reeds ’n geruime tyd vir so ’n uitnodiging, en dat hy saamstem met die president dat hierdie nie ’n heronderhandelingsgeleentheid is nie.
Hy het daarop gewys dat ’n demokratiese proses deur die onderwysers wat ’n 8%-verhoging eis, gevolg is.
“Miskien is daar ’n uitweg,” het Simeon gesê.
Die media is hierna versoek om die konferensiesaal te verlaat sodat die onderhandelinge agter geslote deure voortgesit kon word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie