President gee kwytskelding
President gee kwytskelding

President gee kwytskelding

Meer as duisend se vonnisse verlig
Augetto Graig
Augetto Graig – Die minister van binnelandse sake en immigrasie, veiligheid en sekuriteit, mnr. Frans Kapofi, het aangekondig dat president Hage Geingob ter herdenking van Namibië se 30 jaar van onaf­hanklikheid die vonnisse van 1 023 gevangenes opgeskort of verkort het.

Geen versagting is oorweeg vir veroordeelde misdadigers wat agter tralies is vir oortredinge insluitend moord, poging tot moord, verkragting, verraad, aanranding wat ernstige liggaamlike skade veroorsaak, roof met ver­swarende omstandighede, huisbraak met verswarende omstandighede, dwelmoortredings, oortreding van natuur­bewaringswette of misdaad wat met vuurwapens of ammunisie verband hou nie.

Ander diskwalifiserende kriteria was herhalende oortreders aan wie tevore 'n presidensiële kwytskelding toegeken is en wat weer vir enige wetskending gevonnis is; dié wat bykomende klagte teen hulle hangend het; dié wat tevore hul paroolvoorwaardes verontag­saam het en dié wat tevore uit aanhouding ontsnap het.

Gevangenes aan wie parool voor 21 Maart vanjaar goedgekeur is, dié wat teen 21 Maart 2020 die helfte van hul vonnis van 12 maande of minder uitgedien het, asook bejaarde gevangenes van sestig en ouer met goeie gedrag word sedert Vrydag 22 Mei vrygelaat.

Drie maande word afgetrek van die vonnis van gevangenes wat op 21 Maart reeds meer as die helfte van 'n vonnis van minder as twee jaar uitgedien het.

Gevangenes wat langer as twee jaar in die tronk is en weens goeie gedrag kwalifiseer, kry 'n verkorting van ses maande op hul vonnis.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer