Premier maan oor 'afgryslike gevolge'
Premier maan oor 'afgryslike gevolge'

Premier maan oor 'afgryslike gevolge'

Teen gister het Namibië minstens 150 gevalle van coronavirus aangeteken.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, het gistermiddag gewaarsku verontagsaming van die land se regulasies om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan, hou afgryslike gevolge in.

Sy het by navraag aan Republikein gesê: “Ek moedig die inwoners van Walvisbaai, en inderdaad alle Namibiërs, aan om streng by die Covid-19-regulasies te hou, omdat dit die enigste manier is hoe ons ons gesondheid en veiligheid kan verseker.

“Ons weet die regulasies kan ongerief veroorsaak – in sommige gevalle beduidend – maar die gevolge vir ons land van nienakoming is té afgryslik om te oorweeg.”

Dr. Kalumbi Shangula, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, sê die onlangse vlaag van Covid-19-infeksies in veral die Erongostreek is oorgedra terwyl dié streek ingeperk was.

Dit, meen hy, is ’n bewys dat inwoners nie die regulasies genoegsaam gehoorsaam nie.

Die afgelope naweek alleen is 48 nuwe infeksies aangeteken, wat die totale aantal Covid-19-gevalle in Namibië op 150 te staan bring.

Een van die 14 nuwe infeksies wat gisteroggend aangekondig is, is ’n 82-jarige vrou van Walvisbaai.

Shangula het by die Covid-19-kommunikasiesentrum (CCC) in die hoofstad gesê dié vrou was volgens beskikbare inligting nie in kontak met ’n bevestigde geval van die siekte nie. Sy is Vrydag getoets toe sy ’n geskeduleerde prosedure moes ondergaan.

Al 14 van die gevalle wat gisteroggend aangekondig is, is op Walvisbaai aangeteken.

Saterdagaand het Shangula 15 nuwe gevalle van Covid-19 bevestig.

Die 16 gevalle wat hy Vrydagaand aangekondig het, is die hoogste aantal bevestigde gevalle wat tydens ’n enkele geleentheid bekendgemaak is.

Vrydagoggend het hy drie nuwe gevalle aangekondig.

Uit die 150 gevalle het 22 reeds herstel, terwyl 128 aktiewe gevalle is.

In dié stadium is steeds geen amptelike sterfte weens Covid-19 aangemeld nie.

Shangula het gisteroggend gesê 8 428 weefselmonsters is tot dusver getoets.

Van die 3 773 mense wat in kwarantyn was, is 2 905 reeds ontslaan, terwyl 868 nog gisteroggend in dié geriewe was, het hy gesê.

Kuugongelwa-Amadhila het voorts gevra inwoners moet nie diegene wat positief toets vir die virus aan stigma onderwerp nie. “Ons is almal saam in dié situasie. As ons met ’n gemeenskaplike doel optree, sal ons Covid-19 oorwin, maar indien ons nie in dieselfde rigting saamwerk nie, is ons almal uitgelewer.”

ERONGO-GOEWERNEUR VRA GEDULD

Adolf Kaure berig die goewerneur van die Erongostreek, mnr. Neville Andre, sê hy is beïndruk met hoe die gemeenskap van Walvisbaai eienaarskap van die aktiewegevalle-identifiseringsoefening geneem het.

Hy het Vrydag ’n beroep gedoen op werkgewers om hul werknemers tydens dié tydperk te ondersteun.

Hiernaas het hy inwoners gevra om met die gesondheidsowerhede saam te werk en geduld aan die dag te lê.

Andre sê die aanvanklike uitdagings wat met die proses ondervind is, is intussen uit die weg geruim.

- [email protected]

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer