Pravin: Plan vir Eskom dié week klaar
Die minister het verseker Suid-Afrikaners behoort die Wêreldbeker-kriekettoernooi en -rugbytoernooi “sonder probleme” te kan kyk.
Elvira Wood
Die tegniese taakspan wat aangestel is om bedrywighede by Eskom te hersien, sal nog dié week sy finale verslag voltooi.
Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Dinsdagaand gesê hy verwag dat die span die plan teen Donderdag aan hom sal gee, waarna hy dit Vrydag aan pres. Cyril Ramaphosa sal gee.
Gordhan het sakeleiers by die Mineraleraad van Suid-Afrika se jaarlikse ete op die vooraand van sy jaarvergadering in Sandton, Johannesburg, toegespreek.
Hy het die Mineraleraad bedank vir sy “Thuma Mina”-gebaar deur Ian Morrison en Tsakani Mthombeni beskikbaar te stel om op die tegniese komitee te dien.
Mthombeni en Morrison staan aan die hoof van dié span.
Thuma Mina, wat “stuur my” beteken, is die slagspreuk wat pres. Cyril Ramaphosa gebruik om Suid-Afrikaners aan te moedig om te help om probleme in die land op te los.
Gordhan sê dat die verslag nie net na hom en Ramaphosa gestuur gaan word nie, maar ook aan die direksie van Eskom.
Geen beurtkrag vir SPORT
“Dit is uitsonderlik dat die private sektor hierdie manne se dienste gratis aangebied het. Ons is dankbaar vir die toewyding wat hulle getoon het. Hulle het geweldige goeie insig vir ons gegee. Daar gaan 'n enorme verandering kom wanneer ons hulle voorstelle begin implementeer.”
Hy het ook die ander lede van die komitee vir hul harde werk bedank en vir bydraes wat gelewer is.
Op die vraag deur een van die sakemanne oor of beurtkrag 'n probleem gedurende die Wêreldbeker-krieket- en/of rugbytoernooie gaan wees, het Gordhan hom gerusgestel.
“Ons het gesê daar is 26 dae hierdie winter waar daar 'n kans is dat ons fase 1-beurtkrag kan instel. Ons is nou al sowat tien dae in hierdie 26-dag-tydperk en daar was geen sprake nog van beurtkrag nie.
Mense in die gehoor het bevestig dat die krieket al volgende week is, maar dat die Wêreldbeker-rugbytoernooi eers op 20 September begin.
“In daardie geval is jy binne die 'veilige tydperk' en behoort jy sonder probleme te kan kyk.”
Invloed van staatskaping
Gordhan sê die invloed van staatskaping op staatsondernemings kan nie onderskat word nie. Hy sê dit het nie net enorme finansiële probleme veroorsaak nie, maar ook groot probleme met verwysing na mense wat by dié maatskappye werk.
“Dit het goeie professionele mense uitgeskuif. Daar is óf op hulle gepik óf hulle is aan dissiplinêre prosesse blootgestel wat absolute vrees in hul hart laat ontstaan het. Dit het weer gemaak dat hulle nie kon waag om op te staan vir wat verkeerd was nie,” sê hy.
Gordhan beskryf Eskom verder as 'n ui.
“Jy skil die een laag na die ander af. Jy dink daar is vier of vyf lae en dan gaan jy in die middel kom.
“Maar nie hierdie ui nie. Hierdie ui het baie lae. Elke keer as jy een afskil, besef jy daar is nog 'n honderd onder hom.”
Hy sê wat personeel betref, het die tegniese span agtergekom dat hoewel sommige afdelings van Eskom sonder twyfel te veel werknemers het, daar weer 'n drastiese tekort by ander is.
Gordhan het dit baie duidelik gestel dat Eskom “net” R419 miljard skuld het en beslis nie R500 miljard soos wat Bloomberg onlangs berig het nie.
“Hulle sê daar is gekyk na dokumente wat algemeen beskikbaar is en dat hulle glo Eskom skuld sowat R500 miljard.
“Wanneer Eskom by R500 miljard skuld kom, glo ek die regering sal dit vir die publiek sê. Ek kan dit nie waarborg nie, want ek weet nie of ek oor vier dae nog in die kabinet gaan wees nie, maar ek glo die regering en die president sal die publiek dan inlig.”
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie