Positiwiteitsgriep, hou verby!
Positiwiteitsgriep, hou verby!

Positiwiteitsgriep, hou verby!

[email protected]
Sanet de Waal
Ek is 'n optimis gebore en pessimis gemaak. Dit is vir optimiste verrassend.

Ek het meer optimiste wat my probeer terug na een van hulle verander as wat ek vriende het en die alewige “Wees net positief! Alles werk altyd uit!”, maak my naar.

Dit blyk my optimisme is soos 'n siekte en nes Covid 'n griep wat ek nie wil hê nie.

Pessimisme het my al ver gebring. Daar moet altyd 'n plan B en C wees ingeval plan A nie uitwerk nie. Dus wanneer die koek sekerlik een of ander tyd platval, trek my gesig darem nie so lank soos 'n teleurgestelde optimis nie, want ek hoef dan nie uit die wegspringblokke te struikel nie.

Waar optimiste my egter ore aansit, is dat ek dit verpes om 'n taak te begin waarvoor daar slegs 'n Plan A bestaan. As ek dit nie kan deurvoer nie, wil ek nie eens begin nie.

Daar bestaan vir my egter geen groter vreugde as om reg te wees nie.

Nie om 'n redenasie te wen net om te wen nie – om werklik reg te wees.

Uiteraard beteken dit daar is 'n klein deeltjie van my wese wat vreugde vind in dinge wat skeefloop, want ek die pessimis was reg om die ergste te dink.

As pessimis is jy altyd reg of aangenaam verras, so ek kan letterlik nie verloor nie. Pessimiste wen altyd 'n bietjie vreugde, al kom daardie vreugde uit 'n vars stukkie platgevalde sjokoladekoek.

Die Engelse sê “Ignorance is bliss”. Ek dink daardie is dieselfde leuse waarop optimisme gebou is, want ek het al menigmaal ondervind die nare waarheid is vir pessimiste galbitter.

“Jy kon maar net gesê het ek lyk mooi,” sê my baie optimistiese huismaat wat pronk met 'n uitrusting wat hopeloos te bont is, voor sy een Sondagoggend kerk toe gaan.

Ek kon dit nie verdra dat sy die huis so moes verlaat en dink haar uitrusting gaan koppe vir positiewe redes laat draai nie.

Wat as sy haar trouman by die kerk sou ontmoet? Moet dit sy eerste indruk van haar wees? Nie as ék dit kan keer nie.

Vir my gee jy baie eerder die nare waarheid as wat jy heuning om my mond smeer met wit leuens.

Gesegdetjies wat mooi klink het niemand ooit enige gunste bewys nie.

Sê vir my as ek vet in die rok lyk of as iets deurskyn – ek sou nie die huis so verlaat het as ek geweet het nie. As niemand vir my sê nie sal ek hierdie rok weer aantrek en myself in meer verleentheid stel.

Ek weet nie of ek glo ek kan saligheid vind in die onwis nie. Vertel maar liewer vir my die waarheid en gee my saligheid in die wis.

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer