Posbedryf skop vas teen nuwe regulasies
Die kommunikasieowerheid het die wetsontwerp reeds in die Staatskoerant laat publiseer.
Augetto Graig - Reëls en regulasies vir Namibië se posbedryf word tans geskep, maar nie sonder teenkanting nie.
Die reuse- internasionale koerierdiens DHL het hul regsverteenwoordiger, mnr. Brett Hattaway, van Dubai af laat kom om kapsie teen die nuwe regulasies te maak, wat hy as “wesenlik 'n verkeerde stap” beskryf.
NamPost Namibië, private koerierdienste en ander belanghebbendes kan tot 20 Augustus insette op die wetsontwerp lewer wat op 17 Julie in die Staatskoerant afgekondig is.
Die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) se eerste openbare verhoor oor dié nuwe regulasies het Woensdag by die Namibië Instituut vir Openbare Administrasie en Bestuur (Nipam) se kantoor in Olympia in die hoofstad plaasgevind.
Mnr. Festus Mbandeka, Cran se uitvoerende hoof, het by die geleentheid gesê regulering is deel van die verhouding tussen die owerheid en rolspelers.
Volgens mnr. Jochen Traut, Cran se bedryfshoof, beoog die reguleerder om toeganklikheid, gelyke mededinging, verbruikerbeskerming en goeie dienslewering te bevorder.
Cran stel twee soorte lisensies voor: een vir die aangewese openbare operateur (NamPost) en 'n koerierdienslisensie vir private diensverskaffers.
Albei kategorieë sal lisensiefooie van N$10 000 moet betaal, wat die aansoek, aanpassing, verskuiwing en hernuwing van lisensies dek.
Die wetsontwerp stel prysbeheer vir NamPost-dienste by die staatsonderneming se meer as 140 poskantore landswyd voor.
Dit sit ook aanvaarbare vlakke van dienslewering uiteen.
Mnr. Willie du Toit, voorsitter van die Namibië Logistieke Vereniging (NLA), het by die verhoor op 'n spreekbeurt aangedring omdat sy organisasie meer as 20 kleiner besighede verteenwoordig, wat direk deur die nuwe wetgewing geraak word.
Hy sê hulle is nie na beraadslaging in 2015 en '16 genooi nie.
“In die wetsontwerpproses moet doelbewus besluit word of regulasies goed vir die land is of nie.
“Ek verstaan die wet moet die kommunikasiesektor verruim. Daar word nie direk na koerierdienste daarin verwys nie weens die oorspronklike bedoeling om dit nié te reguleer nie.
“Dit val reeds onder ander toepaslike regulasies. Het Cran al met die ministerie van vervoer, die ministerie van finansies of die ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling gepraat?” wou Du Toit weet.
“Die land se posisie verswak. Om werk te skep, het ons minder regulering nodig, nie meer nie,” het hy gesê.
“Oorregulering maak ons bedryf dood,” het Du Toit gesê.
“Dit kos tyd en geld en dit is 'n las op die private sektor. Julle moet dit nie in die konteks van meer inkomste vir Cran sien nie,” sê hy.
Hy het gesê die NLA het mnr. Rainer Ritter aangestel om navorsing oor wêreldwye beste praktyke te doen wat die logistiekbedryf betref.
Ritter het klem gelê op president Hage Geingob se plan om Namibië tot 'n logistieke kern te ontwikkel.
Volgens hom sal meer regulering Namibië se posisie verder verswak wat betref hoe maklik dit is om sake in die land te doen, ná dit reeds van 56 punte in 2008 tot 106 punte in 2018 geval het. Die swakste punt is 120.
Hattaway het ook kommer uitgespreek daaroor dat die standaarde wat die wetsontwerp wil afdwing nie toepaslik is nie.
Hy stem saam met Ritter dat die vereiste dat besendings voor 12:00 die volgende dag afgelewer moet word, nie haalbaar is nie.
“Dit is onrealisties om van DHL te verwag om iets die volgende dag op verafgeleë plekke, soos Rusland se platteland, af te lewer,” het hy gesê.
Hattaway het gesê maatskappye soos DHL kan hulle nie verbind aan lisensies waarvoor al die betrokke fooie en kostes nog nie bepaal is nie. NamPost se uitvoerende hoof, mnr. Festus Hangula, het gesê hulle sal beslis ook skriftelike insette oor hul eie kommer oor die wetsontwerp lewer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie