• Tuisblad
  • Sport
  • Pollard van veld gedra; krukkelys vir Bokke groei
Pollard van veld gedra; krukkelys vir Bokke groei
Pollard van veld gedra; krukkelys vir Bokke groei

Pollard van veld gedra; krukkelys vir Bokke groei

Rugby
Hendrik Cronjé – Die beseringspook het op nóg ’n Wêreldbeker-Bok toegeslaan, met die Springbok-losskakel Handré Pollard wat Vrydagaand in Parys met ’n draagbaar van die veld is.
Pollard is in die hospitaal opgeneem met moontlik geskeurde kruisligamente ná ’n besering in Montpellier se wedstryd teen Racing92.
Sodra die swelling gesak het, sal ’n skandering lig werp op die erns van die Bok-losskakel se besering.
Pollard is beseer toe hy Baptiste Chouzenoux in die tweede helfte probeer duik het. Spel is lank gestaak voordat Pollard met ’n draagbaar van die veld is. Sy span is met 17-41 verslaan.
’n Dokter het gister aan Rapport gesê die graad van sy besering sal bepaal vir hoe lank hy uit is. Met ’n graad 1-kruisligamentebesering is spelers gewoonlik drie tot vier weke buite aksie en ses tot agt weke met ’n graad 2-besering.
’n Graad 3-besering verg ’n operasie, wat sal beteken dat ’n speler ses tot agt maande nie rugby sal kan speel nie.
Die Rugbykampioenskap word van 7 November tot 12 Desember beplan met die Bokke wat reeds sonder RG Snyman sal moet klaarkom, sou hulle wel na Australië reis.
Die 25-jarige Bok-slot het ’n anterior kruisligamente-besering in sy Pro14-debuut vir Munster teen Leinster opgedoen. Hy sal sowat nege maande uit wees. Hy behoort gereed te wees vir volgende jaar se besoek van die Britse en Ierse Leeus aan Suid-Afrika.
Lood de Jager sukkel weer met ’n skouerbesering. Hy is nog besig om mediese advies oor sy besering in te win. Daar is ’n kans dat ook hy ’n moontlike Rugbykampioenskap sal misloop.
Die Bok-bestuurspan sal boonop die jongste mediese verslag oor Pieter-Steph du Toit se beseerde kniespier wil verkry. Die 28-jarige Du Toit oefen saam met die Stormers, maar kommer bestaan oor ’n spier in sy linkerknie wat nog nie sterk genoeg ná sy beenbesering is nie. Oor Eben Etzebeth is daar ook kommer nadat hy sy ribbes in ’n wedstryd vir sy Franse klubspan Toulon beseer het.
– Netwerk24, Rapport

Kommentaar

Republikein 2025-05-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer