Politici eer sy nagedagtenis
Politici eer sy nagedagtenis

Politici eer sy nagedagtenis

Denver Kisting
Denver Kisting – Pres. Hage Geingob sê wyle mnr. Dirk Mudge het ’n reuserol vertolk in nasiebou.

Die presidensie het gister by monde van sy woordvoerder, dr. Alfredo Hengari, gesê Geingob het met hartseer van Mudge se dood kennis geneem. “Ofskoon ons verskillende politieke agtergronde en ideale verteenwoordig het, het ek Dirk Mudge leer ken tydens die skryf van ons Grondwet in 1989 as ’n leier wat bereid was om kompromieë aan te gaan in belang van vrede en ’n nuwe Namibië.

“Ek sê altyd jy maak nie vrede met vriende nie – jy maak vrede met vyande. Ons oorgang na onafhanklikheid was deurspek met risiko’s wat ons vrede in gevaar kon stel. Met ’n leier van die kaliber van Dirk Mudge aan die ander kant, was ons in Swapo egter in staat om verskille met hom uit te stryk, en toe ’n ooreenkoms bereik is, het hy by sy woord gehou. In daardie sin was hy ’n vredemaker en ’n beginselvaste man tydens ’n kritieke tyd van ons land se geskiedenis.”

Mnr. Andrew Matjila, ook soos Geingob (voorsitter) en Mudge ’n lid van die grondwetskrywende vergadering, sê Mudge was ’n baie toegewyde man. “Hy het gewerk vir die onafhanklikwording van die land. Hy was verbind tot die politiek van Namibië. Hy het almal verseker dat Namibië eendag vry en onafhanklik sou wees.”

Volgens hom is dit tekenend van die held wat Mudge was dat hy op Heldedag gesterf het. “Dit wys hy is ’n held. Hy het op ’n baie belangrike dag gesterf.”

Die oudpremier mnr. Nahas Angula het gister onthou hoe koelkop Mudge gebly het tydens die spanning wat in die vertrek ervaar is waar die Grondwet destyds neergepen is. “Ons kon na mekaar luister selfs al het ons verskil. Hy was baie passievol oor die manier waarop ons die Grondwet geskryf het.”

Mudge was by verre die beste debatvoerder uit die opposisiegeledere, sê mnr. Nico Smit van die Popular Democratic Movement (PDM) by navraag. “Hy het ’n ongelooflike politieke brein gehad. Hy was ’n politikus soos min ander.”

Oor Mudge se rol tydens die oorgangstydperk sê Smit: “Hy was die man wat die toon aangegee het. Hy het ’n uiters belangrike rol gespeel. Ons is baie aan Mudge verskuldig ten opsigte van die demokratiese grondwet wat ons het.”

Adv. Vekuii Rukoro, die hedendaagse Herero-opperhoof en destyds die jongste lid van die grondwetskrywende liggaam, het gistermiddag gesê: “Dirk Mudge sal onthou word as ’n enigma, ’n paradoks en die bedrewe verkleurmannetjie van Namibiese politiek. Die wit man wat sy politiek afgeskop het as deel van die rassistiese en onderdrukkende apartheidregime van Suid-Afrika; wat toe die groot versoenaar van wit en swart geword het toe hy na sy mede- swart inwoners uitgereik het – ’n skuif wat talle van sy wit kamerade woedend gemaak het; en laastens, het hy aangesluit by die room van Namibië se seuns en dogters wat ons land se Onafhanklikheidsgrondwet geskryf het.” - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer