‘Polisiegeweld’ by Staatshuis

’n Lid van die publiek is met wonde aan sy lyf en erg getraumatiseerd gelaat nadat hy na bewering Maandag deur ’n wetstoepasser gemartel is.
Denver Kisting
Denver Kisting – Strafregtelike en interne klagte staar ’n polisiebeampte verbonde aan Staatshuis in die gesig nadat hy glo Maandag ’n lid van die publiek gemartel het.

Mnr. Eugene Goagoseb (30), ’n inwoner van die hoofstad, sê die beampte het hom in ’n vertrek by Staatshuis se ingang opdrukke laat doen en met ’n elektriese koord oraloor op sy lyf toegetakel.

Hy het Maandagmiddag telefonies van sy traumatiese ervaring vertel.

Volgens hom was hy daardie dag omtreeks 07:15 in Otjomuiseweg op pad toe ’n polisievoertuig by ’n stopstraat langs hom beland het.

Hy sê hy het besef hy was in die verkeerde baan en het na die ander baan beweeg en voor die polisievoertuig beland.

Volgens hom het die beampte, wat in burgerdrag geklee was, hom laat aftrek en daarop gewys dat hy voor die polisievoertuig ingeswenk het.

Hy het na bewering erken hy het ’n fout begaan en om verskoning gevra.

Aangesien hy nie sy rybewys op hom gehad het nie, het die beampte toe na bewering op die lisensie van sy werksvoertuig beslag gelê en hom beveel om sy rybewys tuis te gaan haal en dit by Staatshuis te gaan toon.

Goagoseb het nie aanvanklik besef hoekom hy by Staatshuis sou moes aandoen nie.

Die beampte het hom ingelig indien hy daar sy rybewys aan hom sou toon, sou die voertuig se lisensie aan hom terugbesorg word.

Goagoseb sê hy het omstreeks 08:45 by Staatshuis opgedaag, waar die beampte hom ontmoet het.

Volgens hom wou dié man weer eens by hom weet “hoekom het jy so gery? Jy kon ’n ongeluk veroorsaak het.”

In ’n stadium het die beampte glo oorgeslaan na Oshiwambo waarop Goagoseb geantwoord het hy verstaan nie. “Jy sal vandag Oshiwambo leer,” het die beampte glo gesê.

Goagoseb sê hy is na ’n vertrek geneem waarin die beampte ’n hoop bakstene gegooi het.

Die beampte het toe glo aangedui dat hy met sy vuiste op die bakstene gemonteer opdrukke moet doen.

Dit was terwyl hy besig was met die opstote dat die beampte hom glo met ’n elektriese koord begin slaan het.

Volgens hom was hy angsbevange maar wou hom ook nie verset nie omdat hy nie geweet het wat sou volg nie. “Ek was in pyn en kon ook nie uit die posisie kom nie.”

Hy sê pogings deur sy toesighouer, wat in daardie stadium by Staatshuis se hek opgedaag het, om tussenbeide te tree, was onsuksesvol.

Goagoseb sê hy is hierna laat gaan.

’n Senior polisiebeampte gemoeid met die omstandighede het op voorwaarde van anonimiteit gesê: “Die betreurenswaardige voorval het plaasgevind. Strafregtelike klagte is teen die beampte aanhangig gemaak. Interne prosesse is onderweg.”

Adj.komm. Kauna Shikwambi, die nasionale polisiewoordvoerder, het ook gister by navraag die voorval bevestig. “Die lid is reeds gister geïdentifiseer en interne wetsprosesse is begin. Sou die beampte skuldig bevind word, sal hy die toorn van die gereg op die hals haal.”

Sy het ’n beroep op lede van die publiek gedoen om met inligting oor soortgelyke voorvalle vorendag te kom sodat beamptes aan die pen kan ry. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer