Polisie wil diens verbeter

08 November 2018 | Polisie
Tanja Bause – ’n Strategiese plan vir 2017 tot 2022, asook die kliëntedienshandves vir die Namibiese polisie is deur die polisiehoof, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, van stapel gestuur.

“In die afgelope vyf jaar was daar in Namibië ’n toename in misdade soos moord (9,5%), diefstal (36,2%), voertuigdiefstal (34,4%), veediefstal (34,4%), selfoondiefstal (29,5%) en diefstal uit voertuie (4,5%).

“Daar was ’n afname in aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig (7,9%), poging tot moord (3,4%) en verkragting (2,2%),” het hy gesê.

Die strategiese plan sluit in sleutelbeginsels, strategiese doelwitte, programme en projekte wat nagestreef moet word sodat die polisie doeltreffend en effektief kan reageer en ’n betekenisvolle diens aan die publiek kan lewer.

“Die kliëntedienshandves beskryf kliënte se regte wanneer hulle met die polisie werk en veral wanneer hulle ontevrede met die polisie se diens is. Dit beskryf hoe klagtes ingedien kan word. Die handves sal by elke dienspunt, soos polisiekantore, ten toon gestel word en daar is ook pamflette wat mense huis toe kan neem,” het hy gesê.

Ndeitunga het ná die bekendstelling ’n parade toegespreek waar hy dit weer eens baie duidelik gemaak het daar is talle polisiebeamptes wat nie hul werk doen nie.

“Daar is baie wat net ’n salaris ontvang sonder om te werk. Julle is afwesig, siek of bly van die werk af weg. Ek werk liewers met ’n hand vol polisiebeamptes wat wíl werk as met 1 000 salaristrekkers.”

Ndeitunga het polisiebeamptes gemaan om vertroud te raak met die kliëntedienshandves en daarvolgens op te tree.

“Julle is staatsamptenare en daar om die publiek professioneel en vriendelik te dien.

“Julle moet te alle tye jul naamplaatjies dra sodat lede van die gemeenskap kan sien met wie hulle werk. As julle jul naamplaatjies verloor of weggooi, moet julle dit uit jul eie sakke vervang. Dit is deel van jul uniform en daarsonder is julle nie vir diens geskik nie,” het die polisiehoof gesê.

Hy het ook gesê mense wat stamgebonde en rassistiese opmerkings op sosiale media versprei, is ’n gevaar vir die land en sal vervolg word.

“Mense wat dit versprei, is ’n bedreiging vir die land se vrede en stabiliteit. Ons is een land en een nasie. Daar is ook geen plek vir stamgebondenheid in die polisie nie. As ek jou vang, sal ek vir jou ’n rooi kaart gee en dit beteken jy sal uit die polisie geskop word.”

Ndeitunga het gesê die polisie se begroting is gesny, wat kommerwekkend is.

“Die polisie gaan mank daaraan. Ons moet veiligheid en sekuriteit in die land verskaf met ’n baie klein begroting en dit is groot rede tot kommer. Die begroting is gesny en dit op sigself is ’n risiko vir die land se veiligheid en sekuriteit.”

Volgens die adjunkminister van veiligheid en sekuriteit, mnr. Daniel Kashikola, is die Khomas-, Otjozondjupa-, Erongo- en Oshanastreek die meeste deur misdaad geraak.

“Dus is alle streekbevelvoerders en hul bestuur beveel om te verseker misdaad neem in hul streke af. Dit is belangrik dat misdaadvoorkomingsoperasies gereeld uitgevoer word. Ook moet deeglike ondersoeke doen sodat misdadigers die volle krag van die gereg ervaar,” het hy gesê.

Volgens Ndeitunga is ’n totaal van 22 831 strafsake landswyd tussen Maart en Augustus 2018 aangemeld.

In die tydperk tussen Junie en Augustus 2018 is 26 419 sake aangemeld, wat ’n toename van 12% beteken.

“Tussen Maart en Mei is 8 953 strafsake in die Khomasstreek aangemeld, en tussen Junie en Augustus 9 861, wat ’n 10%-styging behels.”

Soortgelyk

 

Geld rol vir ramp

8 ure gelede | Regering

Jo-Maré Duddy – Die regering se N$8-miljardvoorskrif teen die ekonomie se Covid-koors is gister deur ekonome verwelkom, veral omdat dit amptelik as die eerste fase...

Baba jongste Covid-19-geval

8 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - ’n Nege maande oue baba is saam met sy pa die nuutste twee gevalle van Covid-19 in Namibië. Dit bring die nasionale...

Só werk landbou in inperkingstyd

8 ure gelede | Landbou

Elvira Hattingh - Tydens die inperkingstyd mag naweekboere nie heen en weer vanaf hul plase en wonings in dorpe beweeg nie. Voltydse boere en plaaswerkers...

NMH skenk toerusting, kospakkies vir padblokkades

8 ure gelede | Gesondheid

In ’n poging om die vinnige vloei van noodsaaklike vragverkeer by die vier padblokkades na die Khomasstreek te bewerkstellig, het Namibia Media Holdings (NMH) gister...

Noodtoestand: ‘Niks is normaal’

8 ure gelede | Regering

Denver Kisting - Me. Yvonne Dausab, die minister van justisie, sê Namibiërs bevind hulle midde-in ’n buitengewone situasie. “Ons is in ’n noodtoestand. So, niks...

Weer vir 2 April 2020

8 ure gelede | Weer

BINNELAND: Mooi weer en baie warm in die Weste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees met enkele donderbuie in die...

Pandemie slaan toerismebedryf hard

8 ure gelede | Toerisme

Francoise Steynberg - Die toerismebedryf gaan heel waarskynlik die hardste deur die Covid-19-pandemie getref word. Só sê die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië...

Fishrot-hokaairoeper glo gedreig, vergiftig

8 ure gelede | Misdaad

Catherine Sasman – Mnr. Jóhannes Stefánsson, hokaairoeper in die internasionale korrupsieskandaal, oftewel die Fishrot-sage, het aan Yslandse verslaggewers gesê hy is al verskeie kere vergiftig...

Fitch gradeer SA banke verder in rommel in

8 ure gelede | Afrika

Nellie Brand-Jonker - Fitch het die vyf groot banke van Suid-Afrika naamlik Absa, FirstRand, Investec, Nedbank en Standard Bank verder in rommel afgradeer.Alle nasionale langtermyngraderings...