Polisie sorg dat toergroep veilig reis
Polisie sorg dat toergroep veilig reis

Polisie sorg dat toergroep veilig reis

Suid-Afrikaanse toeriste prys die Namibiese polisie wat hul veiligheid hoog op prys stel.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Groot was mnr. George van Deventer, die Suid-Afrikaanse toerleier, se verbasing toe lede van die Namibiese polisie aanbied om hul konvooi van ses voertuie tussen Oshakati en Ruacana te vergesel.

“Dit is 'n baie goeie getuigskrif vir ­Namibiese toerisme,” het Van Deven­ter telefonies van die ­Epupa-valle af aan Republikein gesê.

Van Deventer, eienaar van Trans Africa Self Drive Adventures and Tours, wat al 10 jaar lank toere in Suider-Afrika behartig, sê hy is gewoond daaraan dat polisie- en veiligheidsmagte omkoop­geld wil hê, “maar hierdie is wat jy diens met 'n glimlag noem”.

Van Deventer vertel hy het hom kaduks geskrik toe 'n polisievoertuig op die pad tussen Oshakati en Ruacana die konvooi aftrek.

“Orals waar mens gaan, verwag mens die ergste as jy afgetrek word,” meen hy.

“Twee konstabels en 'n sersant in kamoefleerdrag het aan my gesê hulle het opdrag van 'n ­offisier gekry dat hulle ons konvooi moet vergesel tot waar hy wag. Ek was seker iemand gaan toegesluit word.”

Volgens Van Deventer het hulle die polisievoertuig gedweë gevolg tot waar hulle gestop het.

“By ons aankoms het 'n inspekteur na my toe gekom en homself aan my voorgestel. Hy het aan my gesê hy het opdrag van Oshakati gekry om na die toergroep om te sien en ons tot by ons oornagplek naby Ruacana te vergesel.

“Ek het vir hom gesê ek het die roete al menigmaal afgelê, maar hy het aangehou dat hy opdragte uitvoer om ons veilig by ons bestemming te kry,” vertel Van Deventer, wat gereeld met toergroepe in Namibië reis.

Hy sê die inspekteur het hulle tot sowat 40 km voor Ruacana vergesel, waarna 'n ander voertuig gewag het en hulle ­uiteindelik veilig tot by die ­vulstasie en kampeerterrein gebring het.

“Ons het nogal belangrik gevoel dat ons ons eie bloulig-konvooi gehad het. Mens hoor dikwels nagmerriestories oor polisie en veiligheids­magte, maar hierdie het ons sprakeloos gelaat.”

Van Deventer sê die ­inspekteur het selfs sy persoonlike selfoonnommer aangebied in geval hy of ander toeriste enige hulp sou benodig.

“Sy boodskap aan ons is dat die polisie wil hê ­toeriste moet veilig voel.”

Hy meen dit is 'n pluimpie vir Namibiese ­toerisme.

Die toergroep se reis gaan voort na ­Kaokoland, oor VanZylspas, dan ­Damaraland en loop op Swakopmund ten einde.

Insp. Simeon ­Kasheeta het aan Republikein gesê hy wil hê toeriste moet veilig en gelukkig in Namibië voel.

“Ons wil nie hê ­toeriste moet deur misdadigers geïntimideer word nie,” het Kasheeta gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-09-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer