Polisie ondersoek Bolt se partytjie
Polisie ondersoek Bolt se partytjie

Polisie ondersoek Bolt se partytjie

Atletiek
Andrew Holness, premier van Jamaika, het bevestig die polisie ondersoek Usain Bolt se verjaarsdagpartytjie waar die atletiek-superster waarskynlik Covid-19 opgedoen het.
Christopher Tufton, Jamaika se minister van gesondheid, het Maandag bevestig die wenner van agt Olimpiese goue medaljes is met die coronavirus geïnfekteer.
Bolt (33) is in selfisolasie by sy huis in Jamaika nadat hy Vrydag sy 34ste verjaarsdag met ’n groot partytjie sonder maskers gevier het.
Die wêreldrekordhouer in die 100 m en 200 m is op video afgeneem waar hy saam met gaste dans sonder om ’n masker te dra of sosiale distansiëring te handhaaf.
Verskeie topsportlui het die partytjie bygewoon, insluitend die Manchester City-ster Raheem Sterling en Bayer Leverkusen se Leon Bailey.
The Washington Post berig ’n Manchester City-woordvoerder sê Sterling is steeds in Jamaika en sal vir die virus getoets word voordat die volgende Engelse Premierliga-seisoen begin.
Die coronavirusgevalle het die afgelope vyf dae skielik in Jamaika toegeneem en die regering het sy inperkings uitgebrei.
Onder die maatreëls wat Holness aangekondig het tel ’n verbod op begrafnisse en samekomste van meer as 20 mense wat nie by plekke van aanbidding geskied nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer